MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se Betty, ook bekend as Pocket Rocket het onlangs die wenprys in haar kategorie by 'n Franse Bulhond-skou in Stellenbosch verower.
Betty word op 24 November 'n jaar oud en het onlangs al die pad van haar woning op Island View saam met haar eienaar, Louhesta Nel na die kompetisie gereis.
Haar "sussie", Jeané Nel het haar tydens die kompetisie geskou.
Betty is baie lief vir 'n stappie by die Punt. Sy hou ook daarvan om op die strand te speel. Blykbaar, volgens die Nelle, is Betty besonder lif daarvoor om "French kisses" uit te deel.
Wanneer Betty nie speel nie, eet sy graag haar gesonde hondekos. Ma-Louhesta kook graag vir Betty. Hierdie maaltyd sluit pasta, groente en maalvleis in. Betty drink elke oggend saam met die Nelle koffie. Niemand waag dit om koffie te drink sonder om vir Betty ook 'n bietjie in 'n piering te gee nie. En natuurlik verkies Betty 'n koekie daarby.
Volgens Jeané het Betty nog nooit in haar lewe 'n kat gesien nie, maar sy is van mening dat indien dit wel sou gebeur, Betty eendag net met die kat sal speel.
Betty is nie veel gepla oor die prys wat sy tydens die skou ontvang nie. Jeané sê Betty was mal daaroor om nuwe maatjies in die Kaap te ontmoet. Sy het nie 'n vaste slaaproetine nie, maar slaap altyd tussen Louhesta en haar man, David.
Mens praat nou nie uit die slaapkamer nie, maar Betty snork glo harder as David. Boonop, wanneer David soggens nie betyds wakker word nie, gee Betty hom sommer 'n stewige dosis "French kisses.".
Hier is Betty en Jeané.
Betty Nel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'