Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Pierre en Kleintjie van Schalkwyk het vandeesweek alles behalwe die klere in hul toksak verloor toe hul huis in Hartenbos Heuwels Maandag in die slag gebly het.
Pierre, beter bekend as Scalla by sy vriende, en Kleintjie is gewaardeerde inwoners van Hartenbos en hy spot dat hy destyds die eerste persoon was om 'n huis in die Heuwels te bou. Nou, wanneer hy sy huis herbou, "sal ek seker die laaste wees."
Kleintjie sê Pierre is die sentimentele een, die een wat hardste getref is deur alles, maar veral die herinneringsgoed wat hulle in die brand verloor het. "Daar was erfstukke, goed wat van my kinders se grootjies na hulle toe moes gaan. Van die huis het niks oorgebly nie. Nie een van die tientalle medaljes of foto's van Kleintjie se luisterryke atletiekloopbaan nie, nie een van die talle Lego-stelle van ons seun of die swarthout-staanhorlosie nie," sê hy.
Kleintjie is meer gelate. "Ons is die mense so dankbaar, ons word op die hande gedra. Ons het onmiddellik slaapplek gekry. Ons vriende dra klere, kos, allerhande goed wat ons mag nodig kry aan. Ons is oorweldig deur die ondersteuning," sê Kleintjie.
Die egpaar het hul kinders na Potchefstroom vergesel vir die aanvang van die nuwe akademiese jaar. Hulle was vir 'n vleisbraai by vriende in die Stilfontein-omgewing toe eers Pierre, en toe Kleintjie se selfone lui en hulle die nuus kry dat hul huis besig was om af te brand.
"Dis is waarskynlik beter dat ons die brand nie self beleef het nie, dat ons nie gesien het hoe alles vernietig word nie. Dis dalk beter dat ons nie tuis was nie," sê Kleintjie.
Zola die Rottweiler
Sy sê haar kinders is meer oor hul ouers bekommerd as oor die verlies van die huis. "My dogter was net besorgd oor ons hond, Zola. Ek was so bang sy kom iets oor. Toe ek hoor haar snorbaarde is af en sy het 'n skroeimerk op die sy was ek so bekommerd."
Zola is deur Mariska Jacobs van die Garden Route DBV Mosselbaai gered en later het Kleintjie 'n foto ontvang om te wys dat dit goed gaan met haar hond. "Dit het die wêreld vir my beteken, ons is so dankbaar."
Kyk 'n video hieronder.
Versekering
Intussen is in die woonstel, waar Pierre sedert die brand vensters en 'n deur vervang het, ingebreek en van hul huurder se eiendom gesteel.
Pierre, wat onlangs afgetree het, vertel dat hy aanvanklik beplan het om sy versekering te kanselleer. "Angus Maart, 'n kollega het my oorreed om dit nie te doen nie. Was dit nie vir hom nie, was ons situasie vandag gans anders. Ek is hom dank verskuldig."
Die Van Schalkwyks, wat in 1991 vir die eerste keer na Mosselbaai gekom het - hy in sy kombi en Kleintjie in haar karretjie - gaan nou hul huis en lewe herbou, asof hulle weer van nuuts af, vir die eerste keer, hier te lande kom.
Lees die brand stories hier: Mossel Bay fire contained
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'