Inge se ma, Colette Hansen, vertel haar dogter het laatmiddag in Heiderand met 'n pakkie in die een hand, en haar selfoon in die ander hand in die straat op pad huis toe geloop. 'n Jong man het van voor af aangekom en by haar verby geloop.
Inge (13 jaar) vertel sy het die jong man nog gegroet en niks vermoedend aangeloop toe sy skielik voel iemand pluk van agter af aan die hand waarin sy haar selfoon vashou. Instinktief het sy die selfoon vaster gegryp en, gedagtig dat dit een van haar skoolvriende is wat gekskeer, 'n skrams hou met die pakkie in haar ander hand na die aanvaller gemik.
"Ek het eers geskrik toe ek sien dis nie my vriende nie," sê Inge.
Die aanvaller (16 jaar) het toe 'n mes uitgepluk en haar daarmee gesteek en die mes het die onderpunt van 'n long gepenetreer.
"Gelukkig was van my vriende in die straat net agter my. Hulle het my kom help toe ek skree."
Die aanvaller het probeer weghardloop. Hy het egter nie met 'n Graad 10 Punt leerder (15 jaar) rekening gehou nie. Hierdie inkennige held het alles sien gebeur. Hy sê hy het het onmiddellik nader gehardloop om Inge te help. Nadat hy seker gemaak het dat iemand haar kan bystaan, het hy vet gegee agter die aanvaller aan. Hy het ook ander vriende in 'n motor geroep om te help en saam het hulle die aanvaller aangekeer.
Ander vriende het intussen die polisie geskakel, wat binne minute op die toneel was en die aanvaller in hegtenis geneem het.
Intussen het vriende Inge tot by haar huis gehelp, waar Colette haar boeglam geskrik het toe sy die deur oopmaak en haar dogter vol bloed aantref.
Tog, sê sy, het sy eers flietend gedink die kinders skeer die gek, maar toe Inge vra: "Ma, help my," het Colette besef iets groot is fout. Sy het self met haar dogter na die Life Bay View hospitaal gehaas, waar onmiddellik behandeling toegepas is.
Op Saterdagoggend is Inge ontslaan met die streng opdrag om nie aan kontaksport deel te neem nie en om haar vir die volgende paar weke stil te gedra, iets wat vir hierdie lewenslustige jonge dame maar moeilik blyk te wees.
Ma en dogter is opreg dankbaar en vol lof vir die beskeie Graad 10 leerder, wat nie sy naam genoem wil hê nie. "Die mense moet eerder weet wat 'n held hierdie jong man was wat nie net gestaan en toekyk het nie, hy het die aanvaller agterna gesit, wel wetend dat die skurk 'n mes by hom het. Boonop het hy eers toegesien dat iemand Inge bystaan voordat hy die aanvaller aangekeer het. Hy en sy maats is die ware helde van hierdie verhaal, ons is hulle opreg dankbaar," sê Colette.
Die naam van hierdie jong held is aan die Mossel Bay Advertiser bekend, maar word op versoek weerhou.
Die aanvaller, 'n 16-jarige, is aan die Polisie bekend weens skuldigbevindings aan drie vorige oortredings van dieselfde aard in dieselfde omgewing. Die voorval word ondersoek deur Ao Grundlingh en Student Swanepoel van die Mosselbaai Polisie.
Hy het op Maandag, 11 Februarie in die Mosselbaai Landdroshof verskyn.
Die woordvoerder van die Mosselbaai Polisie, Ao Pieter Koekemoer, bedank die jong held vir sy onselfsugtige optrede wat tot die arrestasie van die beskuldigde gelei het. Hy maan die publiek om veral versigtig te wees wanneer gewapende aanvallers betrokke is en met groot omsigtigheid te werk te gaan. Hy beklemtoon ook dat die SA Polisie in samewerking met die publiek misdadigheid hok kan slaan.

Inge Hansen en die held wat haar aanvaller aangekeer het, in die Life Bay View hospitaal net voordat sy Saterdag oggend ontslaan is. Foto: Nickey le Roux