Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die burgemeester van Mosselbaai Munisipaliteit, raadsheer Dirk Kotzé, het Vrydag, 17 Februarie, erkenning aan besighede in die boubedryf en ander rolspelers gegee wat saamgestaan het om die Duiker-familie se huis te vergroot en geriefliker te maak, nadat 'n tragedie die gesin verlede jaar September getref het.
Ethan Duiker, wat ten tyde van die voorval 'n leerling aan Hoërskool Punt was, het homself om die lewe probeer bring nadat hy na bewering deur ander leerlinge geboelie is. Dié voorval het Ethan verlam gelaat met erge breinskade en hy het nou voltydse versorging nodig.
Walter Fivaz, 'n besigheidsman van Mosselbaai, het deur sy twee kleinseuns van die voorval te hore gekom en het verskeie besighede genader om te help om die gesin se woning in Asla Park, Mosselbaai, te vergroot en in te rig met 'n hospitaalbed, 'n groter badkamer met spesiale stortgeriewe, plafonne, 'n klein kombuis en ander noodsaaklikhede om 'n gestremde persoon te versorg.
FOTOGALERY: Besighede staan saam om Ethan te hulp
Walter vertel, "Ek het betrokke geraak om te kyk hoe ons die gesin kan help. Ethan moes aanvanklik buisvoeding kry en Tania de Kock, die lewensafrigter by die skool, het rondgery om 'n slukspesialis op te spoor en 'n versapper aangeskaf om die kos te verpulp sodat Ethan dit kon sluk.
"Ek het 'n hospitaalbed opgespoor en in die Kaap vir hom gaan haal om sy versorging te vergemaklik. Ek het die besighede genader en almal het dadelik ingestem om die gesin te help en het dit uit hul eie sakke gedoen."
VIDEO: Burgemeester van die Mosselbaai Munisipaliteit, raadsheer Dirk Kotze bedank gemeenskap vir hulp
VIDEO: Niel Kasselman van Ojanna Distributors by die oorhandiging van die huis aan die Duiker-familie
Raadsheer Kotzé, het sy dank uitgespreek aan die meer as 20 weldoeners wat die projek moontlik gemaak het.
"Mosselbaai is 'n wonderlike plek waar mense nog bereid is om saam met mekaar te werk, waar daar respek vir mekaar is en waar daar hoop is. 'n Gebeurtenis soos 'n selfdoodpoging neem hoop weg, maar met die oorhandiging van die nuut, oorgedoende, vergrote woning wat deur samewerking bereik is, bring dit weer hoop terug."
Niel Kasselman, van Ojanna Distributors, voel dat alhoewel dit wat gedoen is om die gesin te help wonderlik is, moet daar meer aandag gegee word aan die rede hoekom ons hier is vandag.
"Word daar genoeg gedoen om boeliegedrag te stop en die oorsprong daarvan aan te spreek en te hanteer? Ek voel die kwessie verdien baie meer aandag." 'n Noodlyn vir mense wat in krisis is en selfdood oorweeg, is beskikbaar met hulp op 0800 567 567.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'