MOSSELBAAI NUUS - Groot was haar verbasing toe Renchi Louw, personeellid van die Shark Lab-akwarium by die Punt, die agterdeur van die akwarium oopmaak en 'n volwasse wyfie Kaapse pelsrob voor die deur aantref.
Aangesien volwasse robbe redelik aggressief is, veral wanneer mense naby hulle kom, het Renchi versigtig te werk gegaan om die rob te bekyk vir enige wonde of tekens van siekte.
Die rob was abnormaal rustig en het haar toegelaat om nader te kom.
Geen wonde kon gesien word nie en nadat die opinie van ander lede van Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) ingewin is, is daar besluit om die rob vir eers kans te gee om te rus.
Die area is afgesper terwyl die rob slaap en lede van die publiek het met groot belangstelling kom kyk.
In 'n stadium het die rob omgedraai en Renchi het lelike bytwonde aan die regtersy wat reeds tekens van ontsteking toon, bemerk.
Dr Frans de Graaff, 'n veearts en direkteur van S.M.A.R.T. het die pelsrob, intussen gedoop Lola behandel.
Dr Frans de Graaff spuit die rob met antibiotika in terwyl Renchi Louw van die akwarium toekyk.
Sy het dr De Graaff toegelaat om haar met 'n antibiotika in te spuit waarna hy die wonde met n sproeimiddel behandel het.
Dit het haar so bietjie ontstel en al die belangstellendes moes spring om uit haar pad te kom.
Sy het egter net so 2m wegbeweeg van haar rusplek voorheen, tot stilstand gekom, teruggekyk na dr Frans en Renchi, haar flippers ingevou, gaan lê en slaap totdat sy gedurende die nag terug see toe is.
Mens sal nooit weet wat die rede was waarom sy juis voor die akwarium se deur kom lê het nie, maar sodoende kon haar septiese wonde behandeling kry wat andersins nie moontlik sou gewees het nie.
Die wyfie Kaapse pelsrob het onlangs by die Shark Lab-akwarium, by die Punt groot opgewondenheid veroorsaak toe sy haar onverwagse verskying daar gemaak het.
ARTIKEL EN FOTO'S: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'