MOSSELBAAI NUUS - Twee bekende sakemanne van Mosselbaai was Donderdag, 1 Desember saam na Willowmore op pad, toe hulle in 'n ongeluk betrokke was.
Peter Rein, eienaar van Piet se plek in Marshstraat, was saam met sy vriend Stan Fry in sy bakkie op pad om te gaan jag in die Willowmore omgewing.
Volgens Rein se dogter Bianca het 'n koedoe voor die bakkie ingehardloop. "My pa het beheer oor die bakkie verloor en van die pad af gery," het Bianca aan die Mossel Bay Advertiser vertel. Die ongeluk het net buite Willowmore op 'n grondpad op pad na die jagplaas plaasgevind.
"Toe Peter rem vir die bokke het die agterkant van die bakkie gegly en ons is van die pad af," vertel Fry. Fry het ligte beserings opgedoen en is ook na die hospitaal geneem vir behandeling maar is gou weer ontslaan. Volgens Fry het hy net sy skouer beseer en skrape opgedoen.
Volgens Bianca is haar pa ná die ongeluk na 'n hospitaal op Graaff-Reinet geneem en om 02:00 die oggend teruggeneem na Willowmore. "Hulle het net gesê hy het ribbes gebreek en hom so gelos," vertel Bianca. Sy skoonseun, Etiene de Koker het hom Vrydagoggend, 2 Desember in Willowmore gaan haal en na Mosselbaai gebring.
Rein het Sondagoggend gesukkel om asemhaal te haal waarna sy familie met hom na die Mosselbaai provinsiale hospitaal gejaag het.
Hier is toetse op hom gedoen en is daar bevind dat daar van sy ribbe in sy longe gesteek het. "Hy het ribbes gebreek wat in een van sy longe gesteek het. Hy het ook 'n wond aan sy kop, skrape aan sy lyf en van sy tone is gebreek." vertel Bianca.
Die familie het op sosiale media gevra vir gebede aangesien sy longe platgeval het en hy teen Maandag nog aan asemhalingsmasjiene gekoppel was.
Rein het op Woensdagoggend, 7 Desember 'n terugslag gehad en is in die vroeë oggendure na George provinsiale hospitaal geneem vir 'n breinskandering. Die skandering was egter normaal. "Hy is by volle positiewe maar sukkel nog met asemhaling. Hulle het begin met asma-medikasie en hy doen goed daarop," het Bianca op sosiale media gesê.
Die bakkie waarmee Peter Rein en Stan Fry op pad was toe die ongeluk gebeur het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'