MOSSELBAAI NUUS - Kobus Neethling, sy vrou Marietjie en seun Jaco, was Sondagaand net voor 23:00 rustig by hul huis in Apiesdoringstraat, Heiderand, toe hulle 'n massiewe slag buite gehoor het.
Dit was reënerig en toe hy en sy seun by die venster uitkyk, het hulle net rooi ligte sien flikker.
Hulle moes eers die honde toemaak voordat hulle kon uitgaan om te kyk wat aangaan.
Hulle het toe gesien dat 'n voertuig die muur plat gery het en in hul erf staan. Kobus het dadelik die Mosselbaai Polisie geskakel wat vinnig geantwoord en gereageer het.
'n Verkeersbeampte was binne vier minute op die toneel en het die bestuurder, wat intussen uit die motor geklim het en weggestap het, gaan haal.
Die polisiebeamptes het net daarna daar aangekom en die bestuurder gearresteer en weggeneem. Kobus is Maandagoggend vroeg na die Mosselbaai Polisiekantoor om 'n saaknommer te kry vir versekeringsdoeleindes.
Hy vertel, "Ek is baie beïndruk met die vinnige, hulpvaardige optrede van die Mosselbaai Polisie se lede. Ek het veral die humoristiese en vriendelike manier waarop die verkeersbeampte en die Mosselbaai Polisie die saak hanteer het, waardeer." Die versekeringseis is afgehandel en 'n bouer is reeds besig om die muur te herstel.
Die muur is reeds weer herstel.
Die motor het Sondagaand deur die muur in Apiesdoringstraat, Heiderand, geploeg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'