SUID-KAAP NUUS - Nog 'n groot gees in plaaslike regering in die Suid-Kaap, Johan Kemp, is aan Covid-19 dood.
Piet van der Hoven, jare lange vriend van Kemp, het Dinsdag aan George Herald gesê Kemp is op Saterdag 9 Januarie, kort voor sy 71ste verjaarsdag, in die Mediclinic George oorlede.
Volgens hom was Kemp hoof van omgewings-gesondheid by die destydse distriksraad en het in 2005 afgetree.
Hy laat sy vrou Marieta, sy dogter Minique (Gutschow) en vier kleinkinders agter. Sy seun, Handré, is vyf jaar gelede na 'n ernstige rugoperasie oorlede.
Minique en haar gesin het reeds uit die Verenigde Koninkryk, waar hulle woon, in George aangekom.
"Johan was 'n omgewings-kenner by uitstek en het veral oor groot kundigheid in plaaslike weerpatrone en seetoestande beskik. 'n Ware natuurliefhebber en kenner," het Van der Hoven gesê.
Hy het hom as 'n hard-werkende persoon met onoortreflike integriteit beskryf. Hy was pragmaties, wel deurdag en 'n passievolle eggenoot, pa, oupa en vriend.
Kemp het onder meer ook as voorsitter van Hoërskool Outeniqua se beheerraad gedien.
"Johan se dood is 'n reuse-verlies en laat 'n groot leemte oor 'n wye spektrum."
'n Troosdiens sal later vir hom gehou word.