HARTENBOS NUUS - Professor Walter Veith, geen onbekende plaaslik nie, tree op Paasnaweek as spreker op by die Hartenbos River Resort.
Hy het bekendheid verwerf deurdat hy as ateïs en evolusionis, wat geglo het dat alles per toeval en vanuit niks ontstaan het, 'n harde pad gestap het om 'n gelowige en 'n skeppingskundige (creationist) te word wat glo dat God alles geskape het in ses dae en dat niks sonder Hom ontstaan het nie.
Professor Veith was dosent in zoologie aan die Universiteit van Stellenbosch en later professor aan die Universiteit van Wes-Kaap.
Vandag is hy een van die bekendste apologete vir die Christelike godsdiens.
Alhoewel sy tuiste in Suid-Afrika is, reis hy die wêreld deur om die Christelike geloof te bevorder.
Hy is ook besturende direkteur van Amazing Discoveries TV, wat wêreldwyd op die sogenaamde free-to-air gratis kanale uitgesaai word en etlike miljoene mense daagliks bereik. Hy het 'n groot verskeidenheid DVDs oor evolusie en skeppingsleer, gesondheid, Bybelse argeologie en eindtyd Bybelse profesië gemaak wat tydens sy besoek te koop sal wees.
Daar sal 'n hele reeks verskillende seminare aangebied word. Behalwe die lesings van prof Veith, sal daar ook seminare deur ander sprekers oor gesondheid, die familie en gesinslewe, Bybelstudies, ensovoorts aangebied word.
Daar is 'n nominale bywoningsfooi vir dagbesoekers wat die seminare wil bywoon. Inligting kan verkry word by die kampgronde of deur 044-6951520 te skakel of e-pos te stuur na hartenbosriverresort@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'