MOSSELBAAI NUUS - Hartenbosser Jan du Toit (68), 'n ikoon onder die plaaslike drawwersgemeenskap, is Saterdag, 22 September tydens sy drafsessie oorlede.
Oom Toitjie, soos hy bekend was, is geskei en het in die Deoville Park-kompleks gewoon. Hy het geen kinders gehad nie.
As lid van Hartenbos Drawwers, het hy as grootmeester deelgeneem.
Oom Toitjie was 'n goeie atleet. Hy het goed presteer en in sy jonger dae jare talle pryse vir sy atletiekprestasies ontvang.
Cecile Nel, 'n lid van die Nedbank-atletiekklub, wat dikwels saam met Oom Toitjie gedraf en gekuier het, sê sy dood 'n skok vir die drawwersgemeenskap. "Oom Jan het my baie geleer en gehelp," het Cecile vir die Mossel Bay Advertiser gesê.
Dit is nog nie bekend nie wat sy dood veroorsaak het. "Ons vermoed dit was 'n hartaanval," het Cecile gesê. Geen nadoodseondersoek sal gedoen word nie.
Oom Toitjie word Vrydag, 28 September om 11:30 by die Hartenbos-begraafplaas te ruste gelê. Die roudiens word daarna om 12:30 by die Hartenbos NG Kerk gehou.
Jan du Toit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'