MOSSELBAAI NUUS - Bejaarde inwoners van Benevolent Park is hande in die hare met lede van die gemeenskap rondom die oord, wie se gefuif vir hulle die lewe ondraaglik maak.
Die jongste voorval was die oorsaak van groot skade aan die oord se omheining.
'n Bekommerde inwoner het foto's met die Mossel Bay Advertiser gedeel wat wys hoe die omheining deurgeloop het nadat 'n voertuig, na bewering 'n groot wit bakkie, verlede naweek daarteen gebots het.
Die vrou se boodskap op die Advertiser se sosiale mediablad het soos volg gelui: "This is what happens when drunk men spin and do burnouts in Carnation Street next to Benevolent Retirement Village. Was waiting for something like this to happen. Next time could be worse?? Who must pay for this damage???"
Die Advertiser het by navraag van die oordbestuurder, Kitty Thiele verneem dat die voorval tussen Saterdag en Sondag, 26 en 27 Februarie plaasgevind het.
Thiele berig dat sy na aanleiding van die gereelde probleme met die gejaag in veral Carnationstraat en die geraas in die nabye omgewing tydens partytjies, 'n afspraak met die buurtwag gereël het om hulp te vra.
"Ons is bekommerd oor die veiligheid aan die Lakie se kant van die oord. Daar word verskriklik partytjie gehou en dit lawaai. Die oumense wat aan daardie kant bly, bly regtig nie lekker nie."
Adjudant-offisier Kappie Kapp, woordvoerder vir die KwaNonqaba-polisie en ook tans vir die Da Gamaskop-polisiestasie waar die saak aanhangig gemaak is, sê dat dit onaanvaarbaar is, veral waar daar kinders en senior burgers woon, dat rusverstoring van hierdie aard plaasvind.
Hy het die publiek daaraan herinner dat rusvestoring 'n kriminele oortreding is.
"Ons doen 'n beroep op ons gemeenskappe om na vore te kom met inligting om die skuldiges aan die pen te laat ry. Wat die betrokke voertuie betref, is registrasienommers noodsaaklik om 'n suksesvolle ondersoek en vervolging te kan doen, daarom versoek ons die gemeenskap om bedag en oplettend te wees."
Kapp het ook genoem dat munisipale wetstoepassers se dienste ingeroep kan word aangesien die verbreking van munisipale bywette ook hier ter sprake is.
"Ons bly moeilikheid hê met die gejaag en die geraas. Dis nou tot hier toe en nie verder nie. Ons moet hande vat om saam te werk om die bejaardes te help beskerm. Wat tans aangaan, is vir niemand gesond nie," sluit Thiele af.
Die windskeef omheining by Benevolent Park nadat 'n voertuig byna daardeur geploeg het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'