MOSSELBAAI NUUS - Werk aan 'n volgende fase van die Sonskynvallei-behuisingsprojek vorder fluks. Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het vandeesweek persoonlik die bouterrein besoek om hom van die vordering te vergewis. Hy is vergesel deur raadsheer Cliffie Bayman en raadslid Anton Dellemijn asook die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
'n Tender vir R37 534 005,03 is onlangs toegeken vir siviele dienste, die voorbereiding van erwe en die bou van Breaking New Ground-huise en toilette vir verbeterde persele in Sonskynvallei. Van hierdie jongste ontwikkeling is 90 behuisingsgeleenthede bestem vir inwoners wat vanaf Powertown hervestig sal word, en 30 Sonskynvallei-families kan ook uitsien na 'n nuwe heenkome.
Dit is die begin van 'n behuisingsprojek wat uiteindelik 610 nuwe behuisingsgeleenthede in die vooruitsig het.
Werk aan veral die installering van grootmaatdienste, paaie en die voorberei-ding van grondwerke vir behuising vorder goed.
Burgemeester Levendal het sy waardering uitgespreek teenoor die kontrakteur, werkers en veral die gemeenskap van Sonskynvallei. "Binnekort kan vele meer inwoners die trotse eienaars van hul eie woonplekke wees."
Die burgemeester, raadsheer Harry Levendal, raadsheer Cliffie Bayman, raadslid Anton Dellemijn en die munisipale bestuurder groet twee werkers, Jan Taylor en Ben Mpapha, wat voorbereidings doen vir die installering van 'n nuwe pyplyn.
Burgemeester Levendal en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee inspekteer die installering van grootmaatdienste waar 'n nuwe pad in aanbou is in Sonskynvallei.Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'