MOSSELBAAI NUUS - Dit is geen geheim dat Suid-Afrikaanse kinders, toenemend in die spervuur kom as gevolg van moeilike, dikwels gewelddadige huislike omstandighede nie. Ook in Mosselbaai, is hierdie tendens 'n werklikheid waarmee hulporganisasies al meer gereeld te doene kry.
Creating Effective Families (CEF), bedryf gesinsentrums in D'Almeida, Aslapark en Georgeweg, Mosselbaai van waar daar 'n verskeidenheid maatskaplike dienste aan gesinne gelewer word.
Die gesinsentrum in D'Almeida bedryf sedert 1997 'n suksesvolle plek van veiligheid vir vroue en kinders wat slagoffers is van gesinsgeweld. In Aslapark is 'n fasiliteit vir kinders tot en met 18-jarige ouderdom wat as 'n plek van veiligheid gedien het. Ten spyte van die nood vir sodanige diens moes die diens noodwendig gestaak word as gevolg van gebrek aan volwasse verantwoordelike huisouers.
Die konstante toename in geweld in die breër Mosselbaai gemeenskap en die effek daarvan op gesinne en kinders noodsaak die herbenutting van die fasiliteit. Die tragiese feit is dat kinders die weerlose slagoffers van geweld is en dat van hierdie geweld direk op kinders gerig is soos die toename in aanmeldings van die seksuele misbruik van kinders bevestig.
Die fasiliteit in Aslapark bied huisvesting aan 12 kinders met aparte geriewe vir seuns en dogters vir 'n tydperk van tot drie maande.
"Ons het 'n groot behoefte aan geskikte huisouers sodat hierdie fasiliteit weer ten volle operasioneel kan wees," sê Karin Gildenhuys, direkteur van CEF. Vorige ervaring vir aansoekers sal 'n bonus wees, maar CEF sal ook aan suksesvolle kandidate die nodige opleiding verskaf.
Volgens dr Andri Nepgen, spelterapeut in diens van CEF, is dit baie belangrik dat die ouers van kinders wat tydelik in die organisasie se sorg geplaas word, ook by CEF se dienslewering kan inskakel. Ouerleiding is 'n kern diens van die organisasie. Die verhouding tussen ouers en kinders is 'n sterk fokus en die drie maande tydperk kan moontlik voorkom dat kinders permanent uit die ouers se sorg verwyder word. So baat die gesin en uiteindelik, die gemeenskap.
Ideale kandidate vir veiligheidsouers is vroue sonder afhanklike kinders met die nodige volwassenheid en omgee om kinders tydelik te versorg. Die gemeenskap kan tans die fasiliteit ondersteun deur skenkings, soos linne, handdoeke, toiletware en meublement, soos 'n sitkamerstel of gemaklike stoele.
Vir meer inligting, aansoeke of navrae, kontak Karin Gildenhuys (044 693 1092).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'