MOSSELBAAI NUUS - Na President Cyril Ramaphosa se aankonding van 'n nasionale ramptoestand vanweë die uitbreek van die Covid-19-virus, is daar talle vrae oor hoe byeenkomste soos begrafnisse gemonitor sal word wat getalle betref.
'n Leser het aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat sy vandeesweek 'n kennisgewing ontvang het om nie 'n begrafnis by te woon nie, juis om die getal roubeklaers te beperk. Roubeklaers sou volgens die leser uitgenooi word na die begrafnis ten einde die getalle onder 100 te hou.
Mathilda le Roux van die nasionale assosiasie vir begrafnisondernemers (NFDA) het by navraag gesê dat die President se aankondiging groot uitdagings in die bedryf bied. "Ons moet redelik kan wees teenoor die kliënt wat getalle betref. Dit is nie maklik om toe te pas nie."
"Dit is eintlik onmoontlik om getalle by begrafnisse te beheer. Veral met die afsterwe van bekendes in ons gemeenskap," sê Cantel Moos van Mosselbaai Begrafnisdienste. Moos sê dat in die lig van die aankondiging, hulle maatreëls nou moet verskerp wat higiëne betref veral met betrekking tot besigtiging en bepaalde gebruike waarby die familie van afgestorwenes tradisioneel betrokke is. Volgens haar is hulle agente veral blootgestel, maar juis essensieel om gemeenskappe op te voed oor die nuwe maatreëls om die verspreiding van die virus te voorkom.
"Ons moet nou ook by begrafnisse dink aan handreinigers vir die roubeklaers en self moet ons makers dra, al lyk dit nou nie mooi nie."
Moos sê vir haar is die moeilikste om kliënte nie te vertroos nie. "Ek hou van persoonlike aanraking. Dit is wie ek is, maar nou moet ek myself heeltyd herinner dat ek nie eens aan 'n hartseer familielid se skouer kan vat nie.
Sakkie Roets van AVBOB het gesê dat families beslis 'n rol in die beperking op die aantal roubeklaers kan speel. "WhatsApp-groepe kan hier baie nuttig wees om mense te laat weet dat daar een of selfs twee gedenkdienste gehou sal word. Ons sal dit maar geval per geval moet hanteer."
Roets sê dat lokale ook 'n probleem blyk te wees omdat nie alle kerk tans as deel van die ramptoestand beskikbaar is vir begrafnisse nie.
"Wanneer ons met die eerste Covid-19-sterftes te doen begin kry, gaan ons opnuut met nuwe uitdagings sit."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'