MOSSELBAAI NUUS - "As geloofsleiers en gemeenskapsleiers sal ons ons plig versuim as ons nie die gemeenskap herinner aan hul persoonlike plig en verantwoordelikheid ten opsigte van hul eie begrafnis nie. Moenie jou begrafnis 'n las vir ander maak nie. Maak betyds en genoegsaam voorsiening," maan die voorsitter van die Mosselbaai NGO-forum, Jerome Meyer.
'n Mens dink waarskynlik nie aan die dood nie, daarom juis die beroep van die Mosselbaai NGO-forum dat die gemeenskap vir behoorlike begrafnisdekking moet beplan en dit self moet befonds.
"Die gemeenskap kan nie die titel van armlastige op hulself plaas om van hul verantwoordelikhede te ontsnap nie," meen Meyer. Hy en pastoor Zaida Swart sê die geloofsgemeenskap en NGO-forum sal die gemeenskap waar nodig ondersteun en behulpsaam wees om die nodige SASSA-aansoeke te voltooi, waar relevant, sodat elke gesin oor die vermoë kan beskik om begrafnisdekking te bekom.
"Daar bestaan steeds begrafnispolisse wat direk van SASSA verhaal word sodat gesinne die gemoedsrus kan hê dat behoorlik voorsiening gemaak is om op gepaste wyse hul geliefdes te begrawe," sê pastoor Swart.
Meyer sê daar kan nie van gemeenskapsleiers verwag word om met kollektelyste rond te gaan om geld te vorder vir die begrafnis van persone wat nie vir hul eie of hul afhanklikes se begrafnisse voorsiening gemaak het nie.
"Daar bestaan genoeg hulp vanuit owerheidsweë om te verseker dat elke gesin oor die inkomste beskik om die nominale premie van so min as R70 of R80 vir 'n begrafnispolis te kan bekostig."
Daar word ook 'n dringende beroep op diegene wat oor begrafnispolisse beskik gedoen om hul begrafnisdekking te laat hersien sodat hulle die gemoedsrus kan hê dat die polis genoegsaam finansiële voorsiening maak vir 'n begrafnis. Veral die ouer garde wat destyds dekking uitgeneem het toe hulle net begin werk het, word gemaan om hul dekking na te gaan.
"Spaar jou kinders en familie die verleentheid om geld te moet insamel vir 'n begrafnis waarvoor jy betyds kon beplan en begroot het.
"Gun jou kinders en familie die geleentheid om met waardigheid afskeid te neem sonder dat daar geskarrel moet word om die begrafnis te bekostig."
Beide Jerome Meyer (081 739 5707) en pastoor Zaida Swart (044 693 3129) bied hul hulp aan vir raad en leiding oor hoe om die gepaste SASSA-ondersteuning wat beskikbaar is, te bekom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'