GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die NG-gemeente in Groot Brak is bevoorreg om vir dr Noël-Jean Creille as orrelis vanaf 1 Januarie 2019 welkom te heet.
Noël-Jean het studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein in orrel, sang, klavier, komposisie, Afrikaans, Engels en Latyn, vyf daarvan as hoofvakke. Hy beskik oor onder meer Mus.Doc, LRCO, ULCO, UPLM, ARSCM (CHM), DD, (Prak Teol) D.LITT et PHIL, DD (Kerkgeskiedenis) en is 'n hoogsgekwalifiseerde en befaamde orrelis.
Tydens die somer- en wintervakansies neem hy meesterklasse by die beroemde orrelis, Marié-Claire Alain, aan die Sorbonne in Parys, Frankryk.
Sy doktorale studie en navorsing handel oor die Orrelboukunde van die Oostenryker, Arp Schnitger en sy tydgenote Jacob Hagebeer en Andreas de Mare.
Hy word in 2004 georden en dien aanvanklik in die Anglo Katolieke Kerk, totdat hy in 2015 in die Anglikaanse Kerk geïnkardineer is in die Bisdom van George. Hy bedien die gemeente van St James the Great, Graaff-Reinet.
Gedurende 2018 was hy werksaam in die Bisdom van Grahamstown en is nou weer terug in die Bisdom van George.
As orrelis te Calitzdorp (2003 – 2013) en Nuwe Kerk, Graaff-Reinet (2013 - 2018) het hy alombekendheid verwerf met sy daaglikse orreluitvoerings.
Sy eerste skakeling met Groot-Brakrivier het reeds in September 2014 begin toe hy genooi is om deel te wees van die Musefees. Daarna het hy agtereenvolgens die afgelope vyf jaar daar opgetree.
Die gemeente sien uit na die bydrae wat Noël-Jean tot die eredienste sal lewer en die moontlikheid bestaan dat hy uitvoerings vir die breër gemeenskap in die toekoms sal aanbied.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakriver, Tuinroete nuus'