Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong man wat onlangs op parool vrygelaat is en tot kort tevore in die departement korrektiewe dienste se jeugfasiliteit in Mosselbaai aangehou is, het 'n administratiewe beampte van dié departement by haar huis op die sentrum se terrein oorval, aangerand en probeer beroof.
Die man, wat volgens inligting gevangenisstraf vir verkragting uitgedien het en verskeie kere vantevore met die gereg gebots het, is nie baie lank gelede nie, na sy 25ste verjaardag na die George-gevangenis oorgeplaas waar parool onderhewig aan korrektiewe toesig aan hom toegestaan is. Jeuggevangenis word slegs tot op ouderdom 25 by die Mosselbaai-jeug- sentrum aangehou.
Dit blyk dat die vrou omstreeks 18:00 op Maandag, 2 Oktober tuis gekom het toe sy by haar huis deur die man ingewag en aangeval is. Die vrou is met beserings per ambulans na 'n plaaslike hospitaal geneem. Sover bekend, was die man met 'n skerp voorwerp gewapen. Dit is nie seker hoe die man toegang tot die jeugsentrumterrein bekom het nie.
Omstreeks 21:00 op Maandagaand was forensiese deskundiges en die ondersoekbeampte, sers Ndala van die KwaNonqaba-polisie en lede van die KwaNonqaba-misdaadvoorkomingseenheid steeds besig om die misdaadtoneel vir leidrade te fynkam.
Die verdagte is kort na die voorval deur konstabels Doempie Duitsjan en Marcel Prinsloo van die KwaNonqaba-polisie se misdaadvoorkomingseenheid in hegtenis geneem nadat hy deur lede van die departement korrektiewe dienste in die huis betrap is. Die korrektiewe dienste-lede het ook die polisie en ambulans ontbied.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om sers Ndala (044 606 5600) te kontak.
Lees 'n vorige artikel: Beampte by haar huis aangeval.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'