TUINROETE NUUS - Die nuus van Harold Basson, direkteur: tegniese dienste by Hessequa-munisipaliteit, se dood het as ’n groot skok gekom; nie net vir die munisipaliteit nie, maar ook vir die gemeenskap omdat Basson reeds in die tyd wat hy hier is, sy stempel deeglik afgedruk het.
Hy was voorheen by George-munisipaliteit betrokke.
Basson het nog verlede naweek aan ’n 5 km pretdraf op Stilbaai, ten bate van die Tuin-op-die-Brak, deelgeneem.
Hy is vroeër die week in George-hospitaal opgeneem met bloedklonte.
Die oorsaak en tyd van sy dood is in die stadium onbekend.
Die munisipaliteit sal later meer inligting bekend maak.
Marius Swart, ‘n voormalige burgemeester van George en parlementslid, het vanoggend aan die George Herald gesê hy is geskok deur Basson se afsterwe.
“Harold was ‘n puik ingenieur en hy het George se infrastruktuur goed in stand gehou.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'