Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die NG Moedergemeente hou tradisioneel jaar na jaar vroeg in Junie basaar.
In 2020, was die kerkterrein grafstil op die eerste Saterdag in Junie aangesien geen byeenkomste te midde die grendeltyd gehou kon word nie.
Vandag, 5 Junie was basaargangers dalk nie so volop soos in vorige jare nie, maar die gemoedelike gees was opmerklik. Covid-19-protokol is toegepas om sosiale afstand te verseker en koopareas is oor die terrein uitgesprei.
Desondanks die maskers op gesigte, het 'n vrolike groetery en geselsery opgeklink soos algaar maar te bly was om net weer iets "normaals" soos 'n tradisionele basaaratmosfeer te beleef.
Fotogalery: NG Moedergemeente basaar
Ds Henri Meyer, een van die predikante en 'n gemeentelid, Dawie Zwiegelaar het in 'n poging om die basaarfonds aan te vul, die pad Kalahari toe aangedurf.
Altesaam het Meyer 950km in 'n tyd van 30 uur met sy fiets gery. Zwiegelaar het 'n gedeelte saamgedraf.
Meyer het aan die Mossel Bay Advertiser tydens die basaar genoem dat die wind plek-plek gelol en die rit uitdagend gemaak het.
Zwiegelaar, wat tydens die basaar by die sosatiebraaiery betrokke was het op sy kenmerkende besadigde manier berig dat hy uitstekend na die drawwery voel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'