MOSSELBAAI SPORTNUUS - Op Sondag, 23 Mei het ds Henri Meyer die lang pad na die Kalahari op sy fiets aangedurf. Die idee was om fondse in te samel aanvullend tot die Mosselbaai NG Moedergemeente se kerkbasaar.
Die fietstoer het begin met 'n moeilike skof oor die Robinsonpas tot by Klaarstroom.
Die wind was sterk en die berg hoog. Die tweede dag was 'n baie lang skof van meer as 200km met 'n vreeslike wind van voor. Die laaste skof, op 28 Mei, was nie so lank nie, maar uiters moeilik, op 'n grondpad met baie sand en klippe. Altesaam het hy 950km in 'n tyd van 30 uur gery.
Saam met hom op pad was 'n gemeentelid en drawwer, Dawie Zwiegelaar. Dawie moes elke dag 'n kwart van die afstand wat Henri sou ry, draf.
Op dag twee was dit meer as 50km. Hy het 249km in 'n tyd van 31 uur 10 minute afgelê. Dawie het ook geswoeg teen die wind en op die grondpad, maar as oorwinnaar uit die stryd getree.
Wat gaan in mens se kop aan wanneer jy so alleen op die pad is? En swaar kry? "God herinner ons dat lyding deel van ons lewe op aarde is," sê Henri. "Dinge in die lewe wat die moeite werd is, wat saak maak, kom dikwels deur lyding en swaarkry. Swaar dae gaan verby; daar kom altyd beter dae. Hou net moed en bly hoop, want jy is veilig in God se hande."
Die gemeente salueer hierdie twee dapper en ondernemende manne en is uiters dankbaar vir die wonderlike bydraes wat reeds ontvang is.
"Elkeen word uitgenooi na die gemeentebasaar op Saterdagoggend, 5 Junie. Streng covid-protokol sal gehandhaaf word, so dra asseblief jou masker en kom ondersteun ons. Daar sal vars Kalahari-vleis, kerrie en rys, koeke, roosterkoeke, pannekoeke, boeke en vele meer te koop wees."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'