MOSSELBAAI NUUS - By Benevolent Park kom 'n mens altyd diep onder die indruk daarvan dat die inwoners daar mekaar se belange deurgaans op die hart dra.
Sondag, was weer eens 'n tekenende voorbeeld hiervan toe 'n aantal betonbankies in gebruik geneem is.
'n Inisiatief van die siekeboegkomitee, is die 12 bankies verkry danksy die onbaatsugtige bydraes van verskeie donateurs.
Aldus sr Margaret Bhana van die komitee, het die projek om die bankies te verkry, reeds in die middel van 2017 begin.
Sy het tydens Sondag se inseëning van die bankies gesê dat die gedagte vir die projek by haar opgekom het toe een van die siekeboeglede 'n entjie op die tehuisgronde wou stap, maar dat daar nêrens sitplek om te rus langs die pad was nie.
Aangesien nie alle seniors se liggaamskragte dieselfde bly nie, het die siekeboegkomitee aan die werk gespring om die saak te beredder en hulp te verleen.
Siekeboegkomiteelede en van die donateurs wat bankies aan Benevolent Park geskenk het.
Vader Pietie Rhodes van die Holy Nativity-kerk in Uitbreiding 8, het die toewyding van die bankies gelei.
Hy het gesê dat dit monumente tot seën moet wees waar mense rus in die Here kan vind.
Hy het die klein gehoor byeen, bestaande uit die siekeboegkomitelede, inwoners, raadslede, wykskomiteelede en donateurs daaraan herinner dat God die goeie gewer van alle gawes is.
ARTIKEL & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'