Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vele hande, ligte werk lui die gesegde. Indien twee organisasies, beide met die gemeenskap se welstand op die hart, hul kragte sou saamspan, kry dié gesegde 'n praktiese gestalte om onder meer behuisingsnood aan te spreek.
Quinton Adams, die bekende Shackbuilder en sy span van die Backyard Varsity was vandeesweek weer in die groter Mosselbaai doenig. Adams en sy span vervang wankelrige woonstrukture met nuwe, stewige, dog tydelike strukture.
Vandeesweek het hulle vir die eerste keer in Mosselbaai gewerk, waar hulle die vervalle Wendy-huis van Benita Williams in Randstraat, Uitbreiding 8 vervang het. Hulle was ook weer werksaam in Ouplaas, ook bekend as Tol se Plaas, 'n informele nedersetting in Groot-Brakrivier, waar hulle reeds voorheen werk verrig het.
Wat hulle besoek aan Mosselbaai besonders gemaak het, was hulle ontmoeting met die span van die Mossel Bay Community Soup Drive.
Volgens William Sam, die sekretaris, het hulle organisasie verblyf en etes aan die Backyard Varsity-span verskaf.
VIDEO: Backyard Varsity vat plaaslik hande
Randstraat
Susan Moss, voormalige Mosselbaaier en voorheen werksaam by die ACVV, was bewus van Williams se behuisingsnood.
"Ek ken Benita Williams baie jare. Oor die jare het sy baie maal opgetree as pleegouer en het aan baie kinders verblyf gebied. Sy het my ook opgepas na 'n rugoperasie."
Sy het Adams genader en verneem of hulle hulp kan verleen.
"Ek is die Here ewig dankbaar vir die jong manne wat my kom help het. Ek het gewonder of hulle 'n plank kan optel, maar hulle kan werk hoor."
Williams is 'n diabeet en swaksiende. Sy versorg by tye tot ses kinders.
Die werk aan haar huisie het op Maandag, 7 Februarie begin en is Woensdag voltooi.
Die Backyard Varsity-span voor die huis van Benita Williams (in groen). Foto: Jannie du Plessis
Samewerking
Adams verduidelik dat die Backyard Varsity daarop gemik is om ook werksloosheid onder die jeug aan te spreek. Hulle bied 'n drie weke lange kursus aan in die basiese, veilige konstruksie van 'n informele struktuur, maar die fokus is ook op 'n teoretiese aspek wat handel oor diensbaarheid, leierskap, projekbestuur, probleemoplossing en karakterontwikkeling.
Sam bevestig dat met Adams se aankoms het die Mossel Bay Community Soup Drive die voorstel op die tafel te sit dat hulle plaaslik materiaal sal voorsien.
Die Backyard Varsity kan dan die bouwerk kom doen, veral in die geval waar woonstrukture sou afbrand wat 'n gereelde verskynsel is.
Adams het dit egter een stap verder geneem, met die oog daarop om nog jongmense op te lei binne die groter Mosselbaai.
"Ons soek strategiese vennote. Ons wil nie net lukraak in munisipale areas werk nie," het Adams verduidelik en gesê dat hulle dit in die vooruitsig stel om met plaaslike munisipaliteite hande te vat.
"Indien ons 'n multi-sistemiese benadering volg, kan ons die informele behuisingskrisis aanspreek."
Die eindresultaat van Backyard Varsity se handewerk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'