MOSSELBAAI NUUS - Die babaseuntjie wat op Vrydag, 27 Maart in Aslapark gebore is, het 'n string name. Waarskynlik omdat hy op so 'n geskiedkundige dag gebore is.
Baba Ruben Lenardo Delano Megis Jaer is tydens 'n roetinepatrollie op die eerste dag van die nasionale grendeltydperk gebore toe sy ma op soek na 'n saamrygeleentheid in kraam gegaan het.
Die Mossel Bay Advertiser het verlede week berig hoe 'n konvooi bestaande uit lede van die polisie, gemeenskapsveiligheid en verkeersdienste deur lede van die gemeenskap gestop is en gevra is om hulp te verleen aan 'n vrou wat besig was om te kraam in 'n huis in Adriaanslaan.
Baba Ruben is Elzelda Jaer se tweede seuntjie. Op die dag wat hy gebore is het sy gevoel hoe hy "knoppe" in haar maag maak en sy het 'n rukkie gaan lê. Toe sy haar weer kon kry, het haar water gebreek.
Toe die persoon wat haar hospitaal toe sou neem nie beskikbaar was nie, het sy in haar toestand na haar tante se huis gestap. Skaars was sy daar toe sy besef dat haar baba met mening op pad is. "Ek wou by die hospitaal kraam, maar toe voel ek net hierdie outjie wil nou buite wees." Baba Ruben is daar in haar tante se huis op die badkamervloer gebore.
Elzelda se suster en ook lede van die polisie, insluitend ao Amanda Naude, het gehelp om Baba Ruben te vang. "Dit was te snaaks. Almal was daar om my te help, die polisie, die traffics, later die ambulans." Tot die baba se pa is in die harwar uit die huis gejaag uit vrees vir die gevreesde koronavirus wat vereis dat mense sosiale afstand moet handhaaf om die oordrag daarvan, te bekamp.
Sy sê, toe dit alles gebeur, het sy nie eens aan die ander groot gebeurtenis, die uitbreek van die koronavirus in Suid-Afrika en die gevolglike aankondiging van die nasionale grendeltydperk gedink nie. "Ek het skoon geskrik toe ek besef ons is voorbladnuus met die opskrif 'lock down baby' en al, maar dit is vir my baie spesiaal."
Vir haar nuweling wens sy net die beste en die mooiste toe. Haar eerste bevalling meen sy, was net so moeitevry. Ouboet Iris, was volgens Elzelda baie opgewonde oor die bababoetie se koms.
Wat Baba Ruben betref sê sy, is hy 'n rustige baba wat net "slaap en drink".
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'