TUINROETE NUUS - Die avontuurtoerismebedryf in die Tuinroete mag op die oomblik stilstand beleef, maar agter die skerms is daar aktiewe prosesse aan die gang om die nuwe realiteite te definieer en ‘n nuwe toekoms vir die bedryf te beplan, sê Alewijn Dippenaar, eienaar van Adventures Garden Route DMC.
Hy vertel meer:
Die toekoms van avontuurtoerisme in die Tuinroete sal bepaal word deur die wyse waarop daar kreatief aandag gegee gaan word aan die volgende tien (10) aspekte:
1. Die Tuinroete beskik oor van die beste natuurlewe en buitelewe in Suid-Afrika waarvoor daar toenemende en groeiende waardering ontwikkel in hierdie tye van inperking. Vryheid kry nuwe betekenis en waar beter om jou siel te kan voed as juis in die natuur.
2. Die Tuinroete gaan minder toerbusse sien in die toekoms maar heelwat meer kleiner groepe wat positief kan meewerk vir die avontuurtoerismebedryf. Die spreekwoord “Birds of a feather flock together” skep geleenthede vir die bedryf om gefokusde groepe na die Tuinroete te lok.
3. Unieke, besonderse ervaringe van hoë kwaliteit gaan die avontuurtoeris na die Tuinroete lok. Hiervan het ons heelwat maar die bemarking daarvan sal meer aandag moet geniet. Groter betekenis gaan gegee word aan ervaringe wat jeugvolheid beklemtoon.
4. Die huidige realiteite fokus heelwat aandag op die protokolle wat ‘n avontuuronderneming moet volg, en dit sluit nie net Covid-protokolle in nie maar ook veiligheid, kwalifikasies van personeel, toestand van toerusting en andere. Hierdie proses kan net positief meewerk om die kwaliteit van die bedryf te verbeter sowel as die standaard van die aanbiedinge.
5. Die bedryf sal moet transformeer in die toekoms om die samestelling van ons samelewing te reflekteer, veral in die bestuur en eienaarskap van avontuurtoerismeprodukte. Meer word verwag as om net die personeelkorps te transformeer; eienaarskap is ewe belangrik.
6. Bemarking aan, en bewusmaking van die avontuurtoeris in Suid-Afrika, Afrika en in die res van die wêreld vereis ‘n totaal nuwe benadering. Die Tuinroete kan meer doen om die gebied te vestig as ‘n voorkeurbestemming vir avontuurprodukte en die natuur.
7. Samewerking tussen avontuurtoerismeprodukhouers om indrukwekkende en opwindende pakkette saam te stel blyk die strategie vir die toekoms te wees. Tans bemark elke produkhouer grootliks in isolasie wat sal moet verander na bemarking van die Tuinroete as geheel.
8. Daar word aanvaar dat talle avontuurtoerismebesighede kan sluit in 2020, maar die geleenthede wat die Tuinroete besit sal nie verlore gaan nie, maar nuwe lewe kry onder die hande van nuwe of bestaande ondernemings in die toekoms. Ons betreur die impak van elke avontuurtoerismeonderneming wat moet sluit en die impak daarvan op ons ekonomie, maar ons moet nie die baba met die badwater weggooi nie.
9. Nasionale strukture soos die South Africa Adventure Industry Association wat gestalte gekry het in 2020 bind nie alleen die avontuurtoerismebedryf saam nie, maar skep beter geleenthede vir samewerking, netwerking, beter en nuwe produkte tesame met ondersteuning aan die groei en ontwikkeling van die bedryf.
10. Vir die afsienbare toekoms sal die Suid-Afrikaanse toeris, sowel as die Afrika-toeris gesien moet word as die bedryf se brood en botter. Spesiale aanbiedinge word genoodsaak. Intussen moet die bedryf herstruktureer met nuwe strategieë om die internasionale avontuurtoeris na die Tuinroete te bring.
Saam kan ons die avontuurtoerismebedryf in die Tuinroete deur hierdie uitdagende tye neem om in die toekoms, hopelik die nabye toekoms, nuwe hoogtes te bereik.
Ons koppe sal hang wanneer ‘n avontuurbesigheid sy deure sluit, maar ons sal nie ophou glo in die geleenthede wat die Tuinroete bied nie.
Alewijn Dippenaar
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'