MOSSELBAAI NUUS - Die eerste lentereeks korporatiewe avontuur-gholftoernooi, aangebied deur die Kansa Relay For Life Mosselbaai, in samewerking met Hartenbos Seefront en ATKV Hartenbos, was baie geslaagd.
Sowat vyf spanne het reeds ingeskryf en hulself gate uit geniet.
Besigheidspanne van onder meer FNB Langeberg Mall en Seesig Motors het hul verskyning gemaak in prettige uitrustings.
Hierdie reeks, 'n eerste van sy soort, gaan beslis nog bo verwagting groei. Natuurlik was die geleentheid ook goed ondersteun deur die publiek.
Die goeie nuus is dat deelnemende spanne hoegenaamd nie bekommerd moet wees dat hul gepenaliseer word as hulle nie elke ligawedstryd bywoon nie.
Die puntestelsel word so uitgewerk dat elke deelnemende span 'n regverdige kans kry om te wen.
Kostes beloop R25 per persoon en familielede is welkom teen R15 per persoon. Wedstryddatums is 21 September, 28 September, 12 Oktober, 19 Oktober, 26 Oktober en 2 November.
Enige individu of besigheid kan deelneem en spanne bestaan uit vier persone. Die finaal word op 2 November gespeel en die wenspan sal 'n wisseltrofee ontvang vir hierdie jaarlikse gebeurlikheid.
Die lentereeks korporatiewe avontuur-gholf uitdaag is 'n fondsinsamelingsprojek vir die Relay For Life wat op 4 November in die ATKV Pretpark by Hartenbos Seefront aangebied word.
Reeds gedurende Oktober sal die publiek merk dat Hartenbos Seefront stelselmatig in pers gehul word, as deel van kankerbewusmakingsveldtog.
Verskeie winkels in die sentrum sal ook spesiale aanbiedinge vir die maand hê.
Op 3 November is dit Purple Friday by Hartenbos Seefront. Om 18:00 vind die Purple Friday Walk plaas waaraan die hele gesin kan deelneem.
Op Saterdagoggend begin die baie vol program vir die Kansa Relay For Life Mosselbaai reeds om 12:00 met 'n putt putt-kompetisie, gevolg deur die Bark For Life vir "hondekinders", 'n skopfietskompetisie vir die kleuters, 'n spinning-kompetisie by Wellness World en dan die amptelike opening van die Relay om 18:00.
Spanne word aangemoedig om nou reeds in te skryf vir die jaarlikse Relay-geleentheid.
Vir meer inligting, kontak Denise Lloyd (084 444 5873) of stuur e-pos na delloyd@mweb.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Hessequa nuus'