Gallery
MOSSEL BAY NEWS - Doen presies wat die Here sê. As Hy sê: "Gee daardie man 'n tros piesangs; doen net dit, nie minder of meer nie."
Dit was een van die boodskappe tydens die Arbeidsbediening se jaarlikse Kersfeesdiens wat Dinsdag, 5 Desember by die Dias Museum plaasgevind het.
Een van die sprekers, Chris Smit van die Arbeidsbediening, het vertel van 'n vrou vir wie die Here gesê het om piesangs aan 'n man te gee.
Sy het gedink, "Dis koud. Ek gee hom ook 'n lekker, warm gekookte hoender." Die Here het geantwoord: "Doen net wat ek sê."
Die rede was dat iemand anders 'n lekker hoender vir die man gegee het. Sy was net veronderstel om die piesangs te gee.
Smit het bevestig hoe die Here vir hom en sy vrou deur die jare voorsien het. "Soos die lelies van die veld sal Hy vir ons sorg."
Sanger Jan de Wet het almal bemoedig met sy liedjies oor geloof. In een daarvan was die woorde, "Het jy ooit gewonder hoe jy rigting kry in 'n stukkende wêreld? Dis die mosterdsaad in jou."
'n Ander lied, Ek loop in spore van hoop, het ook 'n bemoedigende boodskap gehad.
De Wet het vertel hoe hy nie 'n gewone salaris verdien nie, maar dat die Here vir hom sorg.
Die diens is goed ondersteun.
Mosselbaai sangeres Annette Strydom het oor Habakuk 3 gesing. "Die Here maak my voete soos 'n ribbok," het sy gesing.
Daar was 'n sterk gees van positiwiteit wat vir almal bemoedigend was.
Die diens is goed ondersteun deur Mosselbaai se besighede en daar is gebid dat God die dorp se besighede sal seën.
ARTIKEL & FOTO'S: LINDA SPARG, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOURNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'