Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die top-presteerder van Hoërskool Sao Bras in Mosselbaai spog met twee onderskeidings. Lewensoriëntering en Engels eerste addisionele taal en 'n gemiddelde van 72,57%.
Angie April het op die dag dat sy haar matriekuitslae ontvang het aan Mossel Bay Advertiser gesê haar hart staan egter in die rekeningkunde rigting.
Sy wil graag by die Universiteit van Wes-Kaapland gaan studeer en wil 'n geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester word.
"My verhaal tot sukses is maar harde werk, baie vraestelle uitwerk en hulp vra as dit nodig is," vertel sy. "In matriek is daar maar min tyd vir uitgaan en dis laat aande werk." Volgens Angie lê sy nooit slap as dit by skoolwerk kom nie.
"My vrees vir mislukking was my motivering. Ek het altyd alles ingesit omdat ek weet wat ek vir myself wil hê en dit het my gedruk om beter te doen."
"Graad 12 was die moeilikste jaar van my skoolloopbaan. Dit was die eerste jaar dat ons volwaardige eksamens geskryf het en die eerste keer wat ons ongeveer drie uur moes sit om 'n vraestel te skryf," sê Angie
"Covid-19 het 'n baie groot invloed op my gehad omdat daar soveel werk was wat ons nie kon dek nie omdat ons nie elke dag in die skool was nie. Dit was een van die redes hoekom my graad 12 jaar so moeilik was, ons moes al die agterstallige werk inhaal."
Sy het egter gelukkig die voorreg gehad tydens die eksamen in die skoolkoshuis te bly en Uitbreiding 8 het geen kragonderbrekings nie.
Sy sê dit was vir haar 'n groot voordeel dat daar nie beurtkrag was nie.
Buiten harde werk is Angie ook baie lief vir haar hond Lizzy wat soos 'n kind in die huis is. Sy hou ook baie van netbal.
VIDEO - Angie Sao Bras se top matrikulant (Video: Video: Jannie du Plessis).
Angie April spog met twee onderskeidings en is aangewys as Hoërskool Sao Bras se top-matrikulant van 2022. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'