MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se Burgemeesterskomitee het op Maandag, 5 Desember die nuut aangestelde direkteur van korporatiewe dienste, mev Annette Potgieter, verwelkom. Potgieter neem die leisels by Edward Jantjies oor.
Potgieter sluit vanuit Johannesburg by die munisipaliteit aan, waar sy vir net minder as ses jaar as direkteur van menslike hulpbronbenutting en werknemergesondheid en -welstand by die departement van toerisme gedien het.
Voor dit was sy vir ses en 'n half jaar die direkteur van menslike hulpbron-administrasie by die departement van toerisme.
Hoewel Potgieter nuut in Mosselbaai is, is sy geen vreemdeling in die dorp nie aangesien sy en haar gesin gereeld by haar swaer, wat die afgelope 15 jaar hier woon, gekuier het.
Potgieter se ouers was diplomate en sy het ook voorheen vir byna sewe jaar by die departement van internasionale betrekkinge en samewerking as 'n MH-konsultant op assistent- en adjunkdirekteursvlak gewerk.
Van 2000 - 2003 was Potgieter werksaam as 'n senior sekretaris by die Omvattende Kerntoets-Verbod Verdragsorganisasie (CTBTO) by die Verenigde Nasies.
Potgieter het beide 'n baccalaureus- en honneursgraad in bedryfs- en organisasiesielkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Sy het die bestuursbevor-deringsprogram, besigheid, bestuur, bemarking en verwante onder-steuningsdienste aan die Universiteit van Witwatersrand voltooi.
As die direkteur van korporatiewe dienste sal sy verant-woordelik wees om die bedrywighede van die munisipaliteit se operasionele ondersteuning en die menslike hulpbronne-afdeling te lei. Dit sluit in die raad- en komitee-administrasie, administratiewe ondersteuningsdienste, kliëntediens, rekordbestuur, argiewe, werkvloei, eiendomsbestuur en menslike hulpbronne. Sy sal verantwoordelik wees om die direktoraat produktief, effektief en doeltreffend te bestuur en toesien dat strategiese doelwitte en beplanning binne die verantwoordelikheidsgebied bereik word.
Sy het ook as deel van haar inlywing 'n toer van die munisipaliteit onderneem en die personeel van die korporatiewe dienste-span ontmoet. Sy sal ook 'n gespreksgeleentheid met die burgemeesterskomiteelid en portefeuljevoorsitter van korporatiewe dienste, raadslid Nickey le Roux hê, wat haar ook by die direktoraat en munisipaliteit verwelkom het.
Die munisipale bestuurder, mnr Colin Puren het, toe hy vir Potgieter voorgestel het, gesê: "Ons verwelkom jou by Mosselbaai-munisipaliteit, ons weet dit sal vir jou 'n bevredigende ervaring wees. Wanneer en sou dinge moeilik raak, onthou dat daar altyd iemand sal wees wat bereid is om te help. Jy sluit aan by 'n uitstekende span, moenie bang wees om na hulle te draai vir ondersteuning nie."
Die uitvoerende burgemeester, Dirk Kotzé het Potgieter by die span uitvoerende bestuurders verwelkom. Hy het al die direkteure sterkte toegewens met die uitdagings wat die feesseisoen mag meebring en hulle bedank vir hul harde werk en toewyding. "Dankie vir die werk wat julle reeds doen en dankie vir die werk wat ons verwag julle sal doen in die loop van die feesseisoen. Ek wens julle en jul geliefdes 'n geseënde Kerstyd toe."
Hy het bygevoeg: "Ons is as raadslede die span wat die beleid en strategieë konseptualiseer, maar julle, as direkteure, is verantwoordelik om die ideale en doelwitte wat ons stel, te implementeer. Dankie daarvoor."
Direkteur Annette Potgieter (middel) saam met van links, raadslid Nickey le Roux, onderburgemeester Cliffie Bayman, uitvoerende burgemeester Dirk Kotzé en munisipale bestuurder Colin Puren
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'