TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Man van Hazenjacht naby Dysselsdorp, wat met die aanvang van sy saak aangedring het op twee assessore, is Donderdag, 13 April, in die Oudtshoorn-streekhof aan moord skuldig bevind en 17 jaar gevangenisstraf opgelê.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het Andrew Blaauw (31) se verweer dat hy die aand van 6 November 2020 uit selfverdediging opgetree het toe hy die 17-jarige, Gershwin Olivier, een keer met 'n mes in die nek gesteek het, as vals verwerp.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof versoek om nie van die minimum vonnis van vyftien jaar af te wyk nie omdat Blaauw aan 'n baie ernstige moord skuldig bevind is en geen buitengewone omstandighede daarvoor bestaan nie.
Blaauw se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat hy vir byna drie jaar in aanhouding is en nie die moord beplan het nie. Volgens hom was daar provokasie, maar toegegee dat die beskuldigde oorreageer het.
"n Vonnis van vyftien jaar sal onvanpas wees," het Botha gesê. Die hof het bevind dat alhoewel die moord nie beplan is nie, die wyse waarop Olivier vermoor is, skokwekkend en wreed is.
Die landdros het gesê Blaauw het die betrokke aand dinge in sy eie hande geneem, 'n wapen geneem en die oorledene voor die ma van sy kind en ander getuies meer as een keer gesteek. Die oorledene was ongewapen wat beteken dat die beskuldigde se lewe nie in gevaar was nie. Hy het die oorledene eers in die nek gesteek en hom daarna agtervolg en op 'n bed meer as een keer gesteek. Hy toon ook geen berou nie.
Die oorledene was die pa van 'n jong baba wat nou sonder 'n pa moet grootword, het Moni gesê.
Die hof het twintig jaar gevangenisstraf oorweeg, maar die meer as twee jaar wat Blaauw in aanhouding was, in ag geneem vir 'n vonnis van 17 jaar. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit. Die landdros is bygestaan deur twee assessore, past. Gladys George en Kenneth Grootboom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’