MOSSELBAAI NUUS - Naas water, is die bestuur van vullis waarskynlik die volgende krisis wat die Wes-Kaap in die gesig staar. Dit is die mening van die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, wat op vrae van die ANC se hoofsweep in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, Pierre Uys, geantwoord het.
Uys het teen einde Junie vrae aan Bredell in die Wes-Kaapse Parlement oor die Eden-distriksmunisipaliteit se streekstortingsterrein gevra.
Bredell het aan die parlement gesê die bekostigbaarheid van die streekstortingsterrein is 'n groot probleem vir die deelnemende munisipaliteite wie se belastingbetalers uiteindelik vir die verhoogde koste sal moet opdok. Bredell het benadruk dat al die burgemeesters van die deelnemende munisipaliteite, Mosselbaai, George, Knysna en Bitou (Knysna) op 'n koördineringsvergadering op 19 Mei hul steun vir die projek beklemtoon het en dat die taakspan van die rekenpligtige beamptes, onder aanvoering van George-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Trevor Botha, goed funksioneer.
Bredell het bygevoeg dat die munisipale bestuurders van Oudtshoorn en Hessequa ook sedertdien deel vorm van die taakspan van rekenpligtige beamptes. Hy het benadruk dat die onderskeie munisipaliteite nou saamwerk en gepaste oplossings vir minimalisering en herwinning van vullis ondersoek en onder meer besoeke bring aan plaaslike owerhede waar daar reeds in hierdie verband suksesse behaal is.
Die ANC se hoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer, Pierre Uys. Foto: Nickey le Roux
"In 'n poging om die konstruksie en die bedryfkoste van die streekstortingsterrein te verminder, is die bodvereistes verminder en die hersiende tenders aangevra van die oorspronklike bieërs wat aan die bodvereistes voldoen. Die hersiene tenders is einde Januarie ontvang en die kontrak van die transaksie-adviseurs is uitgebrei om voorsiening te maak vir die hersiene tenderproses." 'n Provinsiale oorsigkomitee-vergadering is daarna, op 5 Mei, gehou waartydens die hersiene bod bespreek is, aldus Bredell.
Bredell het die verhoogde koste vir die nuwe streekstortingsterrein onder meer toegeskryf aan die voldoeningsvereistes van nuwe nasionale wetgewing, en het gesê daar word nou met die nasionale ministerie saamgewerk om kostes af te bestuur.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOURNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'