MOSSELBAAI NUUS - Ananda Joubert (42) is 'n inspirasie vir almal. Sy was nog altyd lief vir draf en haar man, Ludwig en twee dogters, Monique en Margaux is haar grootste ondersteuners.
Haar lewe het egter in 2004 onherroeplik verander.
Weens haar bloed wat abnormaal dik was, het Ananda 'n beroerte gekry. Sy moes vir twee jaar daarna hard werk en aanhou terugveg om nie moed op te gee nie, omdat sy toe nie meer kon loop nie. Diegene wat Ananda ken, weet sy is vasberade en dapper.
Hoewel haar linkerarm nie aldag wil saamwerk nie, sorg Ananda vandag dat sy steeds haar passie uitleef.
Sy draf op Mosselbaai se teer- en grondpaaie en het die Twee Oseane-maraton voltooi. Ananda draf omdat sy doelwitte stel om haar drome te verwesenlik en het ook die Comrades-marathon op haar kerfstok.
Haar vriendinne beskryf haar as 'n inspirerende en entoesiastiese atleet. "Sy het haar hart onbloot om vir ons almal te wys, waar 'n wil is, is 'n weg."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'