MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het vandeesweek erkenning gegee aan personeel met jarelange diens en uitgebreide ervaring, wie se diensingesteldheid 'n bate vir die plaaslike owerheid is.
Weens Covid-19, is die sertifikaatplegtigheid oor drie dae gehou.
Die direktoraat gemeenskapsdienste was eerste aan die beurt. Die direkteur gemeenskapsdienste, Elize Nel, het self 'n sertifikaat verdien vir die meer as 16 jaar wat sy die gemeenskap van Mosselbaai dien.
Die ster van die geleentheid was Eddie Jantjies, met meer as 40-jaar toegewyde diens. Eddie het 'n staande toejuiging van kollegas ontvang toe hy Dinsdagaand sy sertifikaat van Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Dirk Kotzé ontvang het.
Kotzé het die personeel vir hul lojaliteit teenoor die munisipaliteit as werkgewer, en teenoor die gemeenskap van Mosselbaai, geloof.
"Hoewel ons weens Covid-19 unieke en beperkende omstandighede beleef, bedank ek juis ons personeel vir hul volgehoue en deurentydse toegewyde diens in belang van ons gemeenskap."
Raadsheer Kotzé het die personeel wat langdienserkennings ontvang het, ook aangemoedig om as mentors vir die jonger personeel te dien, om hul kennis, ervaring en kundigheid gepas oor te dra sodat dienslewering daarby baat.
Kotzé het ook verwys na die personeel wat die afgelope jaar weens Covid-19 en ander redes oorlede is.
"Ons eer hul nagedagtenis. Sommige van hulle sou self erkennig geniet het vir hul jarelange diens. Van hulle het ons geleer wat toewyding is, wat lojaliteit beteken, wat 'n nalatenskap beteken waarop kollegas en 'n gemeenskap trots kan wees."
Eddie Jantjies en Elize Nel is vir onderskeidelik 40 en 16+ jaar lojale diens aan Mosselbaai-munisipaliteit vereer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'