Update Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die drietal, Pieter Koekemoer, Carl de Campos en Sean Snyman het Dinsdag, 25 Mei vertrek op die The Three Amigos Mossel Bay to George Relay oor 'n afstand van 55km.
Die geleentheid het op Afrikadag, 25 Mei plaasgevind. Luther van der Mescht van Monties Cycle and Sports het Koekemoer vergesel vir morele ondersteuning en het ook aan die drie glimbande vir hul veiligheid geskenk.
Die aflos het net na 07:00 by Mosselbaai-toerismekantoor weggespring.
Koekemoer, 'n oud-driekampatleet het daarvandaan met 'n prostetiese been 25km per fiets tot in Groot-Brakrivier gery waar De Campos teen 08:30 oorgeneem het.
De Campos, wat siggestremd is, word gelei deur 'n helper en het plek-plek gebruik gemaak van die ondersteuningsvoertuig as gids met sy een hand op 'n gedeelte van die voertuig. Naby die George-lughawe het Snyman die laaste skof aangedurf tot by Eenheidspark in George se stadskern. Snyman se regterarm is verlam na 'n bo-arm-slagaarbesering.
Koekemoer het na die aflos aan Mossel Bay Advertiser gesê hulle is moeg, maar tevrede dat hulle die afstand suksesvol afgelê het.
"Ons wil graag met die volgende aflos so veel as moontlik gestremdes saam met die drie Amigos laat deelneem."
Hulle hoop om bewusmaking vir gestremde atlete te skep, maar ook om George en Mosselbaai te vestig as die voorkeur bestemming vir mense met gestremdhede. Hulle samel fondse in vir twee strandrolstoele. Die plan is om R120 000 in totaal in te samel.
Watch a video below:
Luther van der Mescht (heel links) hier saam met die drie Amigos: (van links) Pieter Koekemoer, Sean Snyman en Carl de Campos voor die wegtrek by die toerismekantoor in Mosselbaai. Foto: Jannie du Plessis
Luther van der Mescht hier saam Pieter Koekemoer vroegoggend in Louis Fourieweg toe Koekemoer volgens hom nog baie vars was. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikel: Drie Amigos samel geld in vir rolstoele
'We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news'