MOSSELBAAI NUUS - Twee Amerikaanse susters wat die afgelope naweek in Mosselbaai tuisgegaan het, het groot skade gely toe diewe na bewering by die gastehuis waar hulle oornag het, ingebreek het.
Die voorval het op 15 September tussen 02:30 en 06:30 plaasgevind. Die vroue het glo nie die skuifdeur van hulle kamer gesluit nie.
Daar word vermoed dat die vermeende diewe toegang tot die gastehuisperseel in Curlewstraat verkry het deur oor 'n muur aangrensend aan 'n kloof te klim, waarna hulle die gastehuis deur die skuifdeur betree het.
Die vroue is besteel van 'n skootrekenaar, beide hulle beursies waarin hulle paspoorte, kontant, asook debiet- en kredietkaarte was.
Die saak word ondersoek deur ao Arleen Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Tornynstraat
Daar was glo ook gedurende die naweek diefstal uit 'n motorvoertuig toe daar ingebreek is by 'n voertuig wat voor 'n gastehuis in Tornynstraat geparkeer was. In hierdie geval is dit ook toeriste wat besteel is en die vermiste intems sluit in persoonlike items soos beursies en reisdokumente.
"Ons versoek gastehuiseienaars om kennis te neem van misdadigers se werkwyse sodat hulle voorkomingsmaatreels kan toepas," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
"Nog 'n kopseer is die roof van skoliere se selfoon. Misdadigers besef dat jongmense selfone in hulle besig het. Hierdie is gesogte items wat maklik in kontant omgeskakel kan word. Stap in groepe na en terug van die skool af. Moenie bospaadjies en afgelee paadjies gebruik nie. Wees oplettend om verdagtes te kan uitken en rapporteer sake so spoedig as moontlik."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'