MOSSELBAAI NUUS - Graad 1-leerders op Mosselbaai was van die kinders wat in die tweede fase van die heropening van Suid-Afrikaanse skole, op Maandag, 6 Julie teruggekeer het skool toe. Dít, nadat leerders vir amper vier maande tuis moes bly weens die Covid-19-pandemie.
Maar, 'n gewone skooldag, was dit beslis nie.
Leerders moes met maskers skool toe gaan en hul sosiale afstand handhaaf. Leerders se temperatuur is by die ingang van skole geneem en hulle moes ook etlike vrae wat oor hul gesondheid handel, antwoord. Dieselfde het gegeld vir jong leerders, soos sewejariges wat terug is na graad 1.
Leerders roteer tans hul skooldae sodat die skole die geleentheid gegun word om klaskamers te ontsmet.
Hoewel talle ouers die afgelope week hul ontevredenheid met die heropening van skole op Mosselbaai gewys het deur by die skole, veral laerskole saam te drom, het die hooggeregshof in Pretoria verlede week beslis dat die besluit om die land van vlak 4 na vlak 3 van die inperking te skuif, en die skole te heropen, nie onredelik of irrasioneel is nie. Sommige ander grade wat nog nie met skool begin het nie, sal na verwagting op 20 Julie vir die eerste keer terugkeer skool toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'