MOSSELBAAI NUUS - Op 20 September het die plaaslike vissersgemeenskap geleentheid gehad om verdere inligting te bekom oor die voorneme om 'n akwakultuur-ontwikkelingsone in Mosselbaai te vestig.
Die plaaslike ekonomiese ontwikkeling-safdeling van die Mosselbaai-munisipaliteit, onder leiding van Gwynne Harding het 'n vergadering met verteenwoordigers van onder meer die departement landbou, bosbou en vissery en die bestaande vissersgemeenskap belê om meer te wete te kom van die inisiatiewe om navorsing te doen na die wenslikheid en lewensvatbaarheid van 'n akwakultuursone in Mosselbaai.
Die vissersgemeenskap is aangemoedig om strukture nou reeds in plek te kry om hulself te posisioneer sou akwakultuur in die baai 'n werklikheid word.
Verskeie sprekers het hul sterk uitgespreek oor die foute van die verlede en het 'n beroep op die munisipaliteit gedoen vir hulp om die volle potensiaal van die ekonomiese ontwikkeling wat met akwakultuur gepaard kan gaan, te ontgin. Daar is veral ook op die belange van minderheidsgroepe, onder meer die jeug, klem gelê.
Die inligingsgeleentheid het die vissergemeenskap deeglik ingelig oor die moontlike voordele van 'n akwakultuursone, die opleiding en assesseringsprosedures waaraan vissers waarskynlik sal moet voldoen, asook die regulatoriese vereistes wat aan 'n akwakultuursone en vissers gestel sal word. Soortgelyke vergaderings word vir ander plaaslike gemeenskappe in die vooruitsig gestel.
Hierdie jong spreker het gevra dat die belange van die jeug aangespreek moet word in die beplanning en navorsing na 'n akwakultuurontwikkelingsone vir Mosselbaai.
Jerome Kannemeyer het gevra dat die plaaslike vissersgemeen-skap van meet af aan deel moet wees van die proses om 'n akwakultuursone in Mosselbaai te vestig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'