MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai beskik oor slegs vier ondernemings waar vuurwerke binne die wetlike raamwerk verkoop word.
Met die oog op die feestyd wat voorlê, het senior bestuurslede van die onderskeie polisiestasies in Mosselbaai op uitnodiging van die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Leon van Dyk vergader om die seisoenplanne te bespreek.
Kaptein Johan Ehlers van die polisie se springstofeenheid het tydens die vergadering wat by die gesamentlike beheersentrum (JOC) gehou is, bevestig dat persone wat handel dryf in vuurwerke volgens die tersaaklike wetgewing gelisensieer moet wees.
Verder, in terme van wetgewing moet sodanige handelaars se perseel se deur altyd oop wees, die vuurwerke moet sodanig uitgestal wees dat dit nie deur lede van die publiek hanteer kan word nie en geen kinders onder 16-jarige ouderdom mag vuurwerke aankoop nie.
Voorts, mag geen kind onder 16-jarige ouderdom vuurwerke hanteer sonder ouertoesig nie. Ouers kan dus wetlik verantwoordbaar gehou word, in terme van enige gebeurlikheid in hierdie verband.
Verder, mag geen vuurwerke in enige publieke ruimte of binne ‘n 500m-afstand vanaf ‘n publieke ruimte afgevuur word sonder ‘n goedgekeurde aansoek nie. Hierdie goedkeuring word plaaslik verkry en uitgereik deur die Mosselbaai-munisipaliteit se brand-, redding- en rampbestuursdiens.
Dus, effektief mag geen vuurwerke, selfs op privaat persele binne die Mosselbaai munisipale gebied sonder die nodige toestemming afgevuur word nie.
Met die feestyd in volle swang, doen wetstoepassingsbeamptes hul rondes in die Suid-Kaap ten einde te verseker dat daar nie ongerymdhede in terme van die handel in vuurwerke plaasvind nie.
Handelaars wat onwettig in besit van vuurwerke is of daarin handel dryf, staar ‘n boete of tronkstraf in die gesig. Wetstoepassers mag ook beslag op die onwettige vuurwerke lê.
In terme van die munisipale bywette, mag vuurwerke slegs in ‘n publieke plek wat daaraan toegesê is en met die nodige permit soos uitgereik deur Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdiens, afgevuur word.
Persone wat hierdie bywet oortree sal beboet word en alle vuurwerke sal gekonfiskeer word. Indien ‘n lid van die publiek ‘n ander persone ‘n oortreding sien begaan in terme van die afvuur van vuurwerke, moet hulle bereid wees om ‘n eedsverklaring van hulle waarnemings by die Suid-Afrikaanse Polisiediens af te lê.
Die enigste gemagtigde vuurwerkvertoning vir die feesseisoen wat in die Mosselbaai munisipale gebied plaasvind, is die een wat op 31 Desember by Hartenbos Seefront gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'