"Die Ouditeur-generaal stem met die ACDP saam en sê die munisipaliteit moet die jongste jaarverslag korrigeer," sê die ACDP-raadslid in die Mosselbaai raad, raadslid Jeanette Gouws in 'n persverklaring.
Sy sê die ACDP het 'n klag by die Ouditeur-generaal (OG) ingedien oor die Mosselbaai-munisipaliteit se jaarverslag wat na mening van die ACDP misleidend is.
"Die verslag beweer valslik dat geen kontrakte aan raadslede of hul familielede toegeken is nie, ondanks die kontrakte wat in dieselfde verslag gelys is. Sewe kontrakte is aan die vorige burgemeester, raadsdame Marie Ferreira se seuns in een jaar toegeken en word ook so in die verslag gelys.
"Die OG het die klagte ondersoek en stem saam dat die verklaring misleidend is. Die munisipaliteit moet gevolglik die jongste jaarverslag regstel. Die nasionale OG, mnr Kimi Makwetu, het bevestig dat die klag wat deur die ACDP ingedien is, geldig is," aldus raadslid Gouws. Die ACDP-raadslid, raadslid Gouws, het op 27 Januarie die kantoor van die OG gekontak oor die munisipaliteit se jaarverslag vir die jaar geëindig op Junie 2016. Die klagte het betrekking gehad op 'n misleidende verklaring in die jaarverslag vir die jaar 2015/2016 wat dit stel dat geen raadslede of hul gesinne in die verslagjaar enige kontrakte van die munisipaliteit ontvang het nie.
"Dit was blatant onwaar, aangesien sewe kontrakte ter waarde van R6.5 miljoen aan maatskappye van dieseuns van die voormalige burgemeester, Marie Ferreira, toegeken is en as sodanig in die verslag gelys is.
"Die jaarverslag moet nou reggestel word, wat die munisipaliteit onderneem het om te doen. Weens die weiering om die jaarverslag te korrigeer, of om die fout in die oorsigkomiteeverslag reg te maak, soos versoek deur die ACDP-raadslid in die oorsigkomitee-vergadering, was die ACDP verplig om die aangeleentheid aan die Ouditeur-generaal te rapporteer.
"Dit is baie jammer, aangesien dit 'n andersins `n goed saamgestelde verslag in `n swak lig stel en ongelukkig ook daartoe gelei het dat koste deur die belastingbetalers aangegaan moes word vir die OG om die klag te ondersoek. "As die DA-raadslede ag geslaan het op die ACDP se vermaningen die regte ding gedoen het, kon dié probleem voorkom gewees het. Die ACDP is verbind tot eerlike en deursigtige bestuur, hetsy as 'n opposisieparty of as 'n mede-regerende vennoot soos in die metros," aldus raadslid Gouws.
ACDP se persvrystelling as misleidend beskryf
Mosselbaai-munisipaliteit het met kommer kennis geneem van growwe feitefoute in 'n persverklaring deur die ACDP verteenwoordiger, raadslid Jeanette Gouws en wys daarop dat, ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (56 van 2003) (MFMA), slegs die Ouditeur-generaal (OG) wysigings aan 'n ouditverslag of finansiële state wat deur hom afgeteken is, mag aanbring.
Deur dus te kenne te gee dat die Mosselbaai munisipale raad onderneem het om wysigings aan die jaarverslag aan te bring, is misleidend.
Die MFMA, Art 126(5) stipuleer onomwonde: "... no person other than the Auditor-General may alter the audit report or financial statements to which the audit report relates."
Dit sou dus teenstrydig met die MFMA wees indien die munisipaliteit enige wysigings aan sou bring.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, sê die OG se kantoor het nooit, nadat hy 'n mening oor die finansiële state voor of op 30 November 2016 uitgespreek het, enige verdere anomalie aan die munisipaliteit gerig nie.
"Die munisipaliteit het hoegenaamd nie probeer om enige kontrakte wat aan personeel of familie van raadslede toegestaan is, te verskans nie. Trouens, 'n volledige opgawe van die tersaaklike kontrakte is in die jaarverslag, direk onder die gewraakte sin waaroor die raadslid beswaar het, gepubliseer."
Die raadslid is ook tydig ingelig dat die stelling waaroor sy beswaar gemaak het, naamlik dat geen kontrak toegeken is aan raadslede, senior personeel of hul families nie, nie wesenlik tot die inhoud van die verslag is nie, veral nie omdat 'n volledige opgawe wel in die verslag gepubliseer word nie.
Boonop maak die MFMA daarvoor voorsiening dat raadslede, senior personeel en hul families wel met die munisipaliteit mag handel, mits dit volgens die voorsieningskanaalbeleid gedoen word en korrek weergegee word in enige finansiële state. Dit is wel gedoen.
Die jaarverslag is ingevolge voorskrif wel aan openbare deelname onderwerp, maar enige persoon wat verdere klarigheid oor die onderwerp verlang, is welkom om met mnr Colin Puren (044 606 500), die uitvoerende bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder, te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'