MOSSELBAAI NUUS - "Die Demokratiese Alliansie-beheerde raad in Mosselbaai moet projekte volgens nood prioritiseer en gehoor gee aan gemeenskappe se versoeke."
Dis die mening van die African Christian Democratic Party (ACDP) raadslid, Jeanette Gouws wat sê haar party het reeds met vorige begrotings vir 'n nooduitgang vir Danabaai gevra.
"Aangesien die DA geweier het om 'n nooduitgang as kapitaalprojek op die begroting te plaas, het die ACDP spesifiek gevra dat dit dan vanuit bedryfsuitgawes befonds moet word, selfs as `n grondpad, omdat die gemeenskap 'n dringende 'n behoefte vir 'n noodpad het.
"Die ACDP het reeds in Februarie 2017 die raad oor die dringendheid van 'n nooduitgang vir Danabaai gewaarsku, 'n versoek wat toe summier geweier is," sê raadslid Gouws in 'n persverklaring.
Sy sê die DA het benadruk dat so 'n pad 'n kapitaalprojek sou wees. Op 7 Maart verlede jaar het die ACDP weer, weens die risiko vir menselewens versoek dat fondse vanaf die bedrysbegroting vir die alternatiewe roete aangewend moet word. Die ACDP het toe gevra dat daar dringend met grondeienaars vergader moet word om ooreenkomste te bereik om hul hulp te bekom vir 'n werkbare langtermynoplossing.
"Die ACDP verstaan dat kapitaalprojekte uit die kapitaalbegroting gefinansier moet word. Juis daarom is spesifiek nié voorgestel dat 'n kapitaleprojek onderneem moet word nie.
"Weens die werklik ernstige behoefte aan 'n nooduitgang vir Danabaai het ons gevra dat fondse uit die bedryfsbegroting gebruik word om 'n grondpad as nooduitgang te skep. Die risiko vir menselewens is té groot om die gemeenskap se probleem nie dringend aan te spreek nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'