MOSSELBAAI NUUS - Lourens de Villiers, inwoner van die Glentana-area, het op 15 Mei sy 94ste verjaardag gevier. Wat dit so merkwaardig maak is dat hy op dié gevorderde ouderdom steeds aktief met sport betrokke is.
Op Woensdae en Saterdae sal jy hom op Groot Brak se tennisbane aantref.
Die geheim is volgens De Villiers die drie g's. Baie genade, goeie gene en 'n gesonde lewenswyse.
De Villiers se medisyne is 'n glas warm water in die oggend.
Hy het grootgeword in die Kenhardt-distrik, waar hy ook gematrikuleer het.
Hy bekwaam homself as regsgeleerde met BA Regte (Stellenbosch) en LLB (Vrystaat) kwalifikasies agter sy naam. Hy praktiseer aanvanklik as prokureur voordat hy by die militêre regsafdeling van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) aansluit, Daar doseer hy militêre reg aan die akademie en tree hy op as voorsitter van krygsrade.
Van sy jong dae sou jy hom altyd op die tennisbaan kry. Hy beoefen die sport deurgaans mededingend en tree ook op as voorsitter van die SA Weermag se tennisliggaam. Hy het in 1984 afgetree as brigadier as Hoof Militêre Regoffisier.
Hy geniet sy tennis, maar hou nie baie van "deurmekaar" (beginner) tennis en "lobs" nie. Iets wat hy natuurlik uitstekend uitvoer! Hy beskou die Serwiër Novak Djokovic as een van die beste tennisspelers. Volgens Johan Snyman, sekretaris van die Groot Brak-tennisklub, ry oom Lourens nog elke week self met sy motor na die tennisbaan.
Een van sy wense op sy emmerskoplys is dat hy nog gespaar sal bly om op die beloofde opgeknapte tennisbane op Groot-Brak sal kan speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’