GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Nie almal wat vandag die lewe hou sal dalk kan rekenskap gee van waar hulle op 19 Februarie 1930 was nie.
Maar die leerders van Laerskool Vorentoe wat op Woensdag, 19 Februarie 2020 by die skool was, sal met trots kan sê, hulle was daar toe dié skool 90 jaar oud geword het.
FOTOGALERY: LAERSKOOL VORENTOE WORD 90
Met onderwysers wat in periodedrag kenmerkend van die jare dertig kom skoolhou het, was daar beslis 'n ouwêreldse atmosfeer. Al die onnies het egter vinnig hulle slimfone uitgepluk om tydens pouse 'n foto van die groot verjaarsdagkoek te neem.
Die oorspronklike skool op Groot-Brakrivier was glo waar die museum tans is. C Searle & Co, 'n bekende naam in die sakebedryf op dié dorp, het grond geskenk vir die bou van 'n nuwe skool wat in 1930 geopen is.
Hierdie pragtige gebou staan vandag nog en huisves die 288 leerders wat tans daar skoolgaan.
Kyk 'n video hieronder.
Aanvanklik was die skool die Groot-Brakrivier Sekondêre Skool genoem wat tot en met standerd 8, vandag graad 10, aangebied het. Met die verandering in die opvoedingstelsel in 1974, huisves die skool leerders tot en met standerd 7, vandag se graad 9 en toe, in 1983 word Vorentoe 'n laerskool.
Die leuse, wat ook die skool se naam is, bestaan sedert 1939.
Een onderwyseres en twee leerders het ook met die groot verjaarsdag Woensdag geleentheid gehad om hulle geboortedae te herdenk.
Tydens 'n kort toespraak het die skoolhoof, Schalk Theron die kinders, meestal kaalvoet, mooi laat verstaan dat hulle deel van 'n geskiedkundige dag is, maar hulle ogies was waarskynlik net op die aptytlike koek, waarvan elke leerder 'n smaaklike stukkie gekry het om te geniet.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'