Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO'S - 'n Inwoner van Reebok, Maureen Pienaar het die afgelope week haar 90ste verjaarsdag saam met familie en vriende gevier.
Elizabeth Maureen Pienaar (neé Jackson) is op 28 April 1932 in die Paarl gebore en het op Riversdal groot geword.
Met haar pa in die polisie het hulle later van tyd na Randfontein getrek. In die laat vyftigerjare trek hulle na 'n plaas in die Viljoenskroon-area waar haar pa begin boer het.
Dis waar hierdie klein en fyn Engelse tannie sommer onder die boeregemeenskap verafrikaans het. In die vroeë 1990s tree haar man af en vestig hulle hul in Reebok.
Sedert haar man se afsterwe in 1994, bly sy tot vandag toe alleen in hul huis in Reebok. En van stilsit is daar nie sprake nie. In hierdie klein gemeenskap het sy al calenetics, joga, rolbal, klopdanse (tap) en tans lyndans gedoen.
Sy speel ook klavier vir 'n plaaslike kerk. Na 'n skouerbesering skaal sy egter bietjie af en geniet nog die lyndans en sy stap gereeld.
Haar vriende, vriendinne saam met haar seun Daniël en sy vrou Cora, het haar Dinsdag, 26 April verras met 'n partytjie by die Reebok-gemeenskapsaal. En natuurlik is daar lekker gekuier, geëet en natuurlik lyndanse gedoen.
Haar dogter Lillian Kuys het van Brisbane, Australië hiernatoe gevlieg asook die ander dogter, Theresa de Jager het van die Kaap gekom om Maureen se verjaardag saam met haar te vier.
Maureen is voorwaar 'n voorbeeld van sprankelende gesondheid en sê: "Oefening en vriende hou my jonk."
FOTOGALERY: Maureen Pienaar vier 90 jaar
"Sien julle oor 10 jaar," sluit sy haar gesprek af. Sy spog ook met drie kleinkinders en een agterkleinkind.
VIDEO: 90 Jaar geseënd
VIDEO: Die 90 jaar geheim - Maureen Pienaar vertel
Maureen Pienaar saam met haar seun, Daniël Pienaar en sy vrou Cora.
Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'