Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Vyf gesinne van die Greenfield-nedersetting in Groot-Brakrivier het Vrydag, 10 Desember elk 'n uitsettingsbevel ontvang om onmiddellik hul huise te ontruim.
Dit volg na die onlangse reën die grond waarop hul huise gebou is, onstabiel gemaak het.
Inwoners het vroegmiddag in Daffodilsingel vergader in weerwil om te trek aangesien hulle geen heenkome het nie. Boonop is daar nie voorsiening gemaak vir tydelike en alternatiewe verblyf nie.
"Hoe moet jy nou in een dag blyplek kry?" het Alicia Heyns aan Mossel Bay Advertiser gesê. Jovani Jansen beweer dat die Mosselbaai-munisipaliteit glo jare al kennis dra van die kraak wat in hulle area loop.
"Hulle almal het al opnames kom doen hier. Hier gaan van die mense doodgaan as die wal moet skuif," sê John Jacobs, inwoner van die gebied.
FOTO'S: Inwoners bekommerd na huise moes ontruim word
Die inwoners van Daffodilstraat het Saterdag 15:00 weer vergader om hul posisie te bespreek. Teen Maandag het hulle nog geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie. Hulle is baie bekommerd oor die boetes wat hul opgelê gaan word en ook bekommerd dat nog reën moontlik die saak gaan vererger.
"Ons het nog niks gehoor van enige alternatiewe verblyf nie," het Heyns Maandag aan die Advertiser gesê.
VIDEO: Een dag om huise te ontruim
Verklaring
Die direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling van die Mosselbaai-munisipaliteit, Carel Venter het in 'n verklaring Saterdag, 11 Desember aan die Advertiser gesê dat die raad bewus is van die situasie en die saak al voor die raad gedien het.
Die situasie het egter versleg na afloop van die hewige reën wat die area die afgelope tyd ontvang het. Dieselfde proses moet egter gevolg word, soos ook in ander areas met dieselfde probleem.
Kennisgewings moet dus aan die inwoners van die betrokke huise gedien word, sou 'n huis onveilig vir bewoning word. Verder probeer die munisipaliteit in samewerking met die provinsiale departement van menslike nedersettings om alternatiewe akkommodasie aan die betrokkenes te voorsien.
Maandag het Venter aan die Advertiser gesê hulle poog steeds om alternatiewe behuising vir die eienaars van die huise te voorsien. Dit geld egter nie vir huiseienaars wat hul huise uitverhuur nie en sulks eienaars moet self alternatiewe akkommodasie vir hul huurders vind teen hul eie koste.
Raadslid Anton Dellemijn en uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzè het Woensdag, 15 Desember die gemeenskap in Groot-Brakrivier toegespreek waar van die inwoners uitsettingsbevele ontvang het om hul huise te ontruim. Dit volg nadat swaar reën die afgelope tyd die grond waarop die huise staan onstabiel gemaak het. Van die huise het reeds struktuurskade opgedoen en is onveilig vir bewoning. Ses inwoners is reeds aangesê om hul huise te ontruim.
VIDEO: Huislose inwoners kry nuwe hoop
Kotzè se boodskap in kort was dat die munisipaliteit nie in beheer van die behuising is nie, maar dat dit onder die distriks- en provinsiale owerhede resorteer. Volgens Kotzè, sal die munisipaliteit, in samewerking met die gemeenskap, egter alles in hul vermoë doen om die uitgesette inwoners te akommodeer. Kotzè het gesê hy gaan die kwessie dadelik met die betrokkenes aanspreek.
Na die vergadering het Dellemijn en Kotzè self gaan kyk in watter toestand die huise is. 'n Paar voorstelle is nou ter tafel gelê en terugvoering sal binnekort gegee word.
Een van die huise wat aansienlike skade opgedoen het na die baie reën. 'n Groot gedeelte van die woongebied is besig om te skuif en rig groot skade aan. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'