Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vir minstens 30 jongmense uit die gemeenskap van Civic en Highway Park, is daar nou nuwe toekomshorisonne dansky 'n projek waartydens hulle leerlingbestuurslisensies kan bekom.
Die projek word aangebied deur die nie-winsgewende organisasie, die Paul M Draay Soup Drive. Die organisasie het fondse vir hulle projek na 'n tenderproses vanaf die Tuinroete-distriksmunisipaliteit bekom.
Die sopkombuis was gedurende 2020 aktief betrokke in armoedeverligting deur middel van verskeie inisiatiewe. Tydens Maandag, 26 April se projekbekendstelling by die Civic Park-kleuterskool, het William Sam van die organisasie gesê dat hy aan die einde van 2020 geworstel het met die vraagstuk oor hoe hulle die gemeenskap verder van hulp kan wees.
"Ons kinders maak dit tot in graad 12 en dan sit die helfte tuis. Hulle kry nie werk nie." 'n Moontlike oplossing vir hierdie probleem, het Sam gereken, is om hulle te help om te kan bestuur.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het tydens die geleentheid vertel dat sy loopbaanmoontlikhede destyds as sekuriteitswag beperk was omdat hy nie kon bestuur nie. Nadat hy egter sy leerlinglisensie en toe sy bestuurslisensie bekom het, het sy lewe verander omdat hy eensklaps meer indiensneembaar was.
Raadsdame Rosina Ruiters, Mosselbaai munisipale raadslid en onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het ook die jeugdiges toegespreek. Sy het haar aandeel in die projek verduidelik.
"Ek is baie dankbaar teenoor elke student wat vandag hier is, omdat dat julle die geleentheid aangegryp het. Deesdae word in bykans elke werksaansoek gevra of jy 'n bestuurslisensie het."
Die klasse het hierdie week 'n aanvang geneem. Sam het die deelnemers dringend versoek om erns daarmee te neem, aangesien die aanvraag so hoog is.
Sam het ook gesê dat die organisasie se naam eersdaags sal verander na die Mossel Bay Community Soup Drive. Aansoek om die naamsverandering is reeds gedoen.
'n Projek waartydens jongmense in Civic en Highway Park hulle leerlingbestuurslisensies gaan kry, is Maandag, 26 April bekendgestel. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'