Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Nie net is 'n 30-jarige man van Mosselbaai op Dinsdag, 30 Januarie in hegtenis geneem nadat 'n wilde jaagtog vanaf George omstreeks 11:45 dramaties in Marshstraat geëindig het nie, maar sy broer en pa is na wat verneem word by monde van die Mossel Bay Advertiser se susterkoerant, George Herald ook vandeesweek op George aangehou.
Dit volg nadat die drie mans glo 'n 45-jarige man van Oudtshoorn wat 'n onderneming op George bedryf, aangerand en toe na bewering met twee van die onderneming se bakkies van die toneel gevlug het.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie, is die drie mans Dinsdagoggend na George om 'n geskil oor uitstaande betaling uit te sorteer.
Dit het in 'n struweling ontaard waartydens die 45-jarige slagoffer ernstig aangerand is.
Aanvanklik is berig dat die 30-jarige man glo in sy slagoffer se wit, CAW-geregistreerde Isuzu-bakkie gespring en van die toneel weggejaag het in die rigting van Mosselbaai.
Dit het later aan die lig gekom dat die man se broer en sy pa in 'n ander voertuig, 'n Toyota-bakkie wat ook aan die 45-jarige slagoffer behoort, gevlug het.
Na wat verneem word, het die polisie op beide voertuie beslag gelê.
Omstandighede waaronder die broer en die pa in hegtenis geneem is, was teen druktyd nog onbevestig.
Jaagtog na Mosselbaai
Twee lede van die misdaadvoor-komingseenheid op George het berig ontvang van die voortvlugtige 30-jarige man en het die verdagte voertuig teen 'n hoë spoed op die N2 naby Glentana sien verbybeweeg.
Die lede het die verdagte voertuig gevolg en versterkings ontbied.
Naby Hartenbos het die verdagte voertuig van die N2 afgedraai na die ou Klein-Brakrivierpad, vandaar op die R328 na Hartenbos en toe op Louis Fourie-weg in die rigting van Mosselbaai gejaag.
Die 30-jarige man het pogings om hom voor te keer by die ingang na Hartenbos Heuwels, naby Voorbaai en De Bakke gefnuik.
Volgens kapt Fourie het verskeie polisievoertuie die voortvlugtige man in die bakkie agternagesit.
Kyk 'n video hieronder.
'n Dramatiese jaagtog kom uiteindelik tot 'n einde in Marshstraat.
'Ons sou dood gewees het'
'n Bejaarde ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle op Georgeweg gery het toe die voortsnellende bakkie rakelings by hulle verby is teen 'n hoë spoed.
"Dit was ongelooflik hoe vinnig hy gery het. Ek het vir my man gesê ek hoop nie iemand word doodgery nie.
"Die bakkie was op pad in die rigting van die dorp. Ons was baie gelukkig dat hy ons nie getref het nie. Ons sou dood gewees het."
Die man het die voertuig glo naby die Mosselbaai-polisiestasie op Georgeweg vlugtig gestop.
Hier moes polisielede na die voertuig se buiteband vuur om dit tot algehele stilstand te probeer dwing, berig kapt Fourie, maar die man het voortgejaag.
"Ons was op pad na die polisiestasie toe ons die bakkie sien. Dit het opgejaag in die rigting van die aankomende verkeer en ons amper getref.
"Ek het die polisievoertuie gesien en eers gedink die bakkie probeer uit hulle pad beweeg. Maar toe ek die skote hoor, het ek besef hulle jaag hóm.
"Ek het gedink dis 'n gewapende rooftog," vertel Phillip Vermaak wat ook die jaagtog gesien het.
Die wit Isuzu-bakkie waarin 'n 30-jarige man van 'n misdaadtoneel in George gevlug het is tussen die polisievoertuie sigbaar.
Van hier het die man in Kerkstraat en toe in Marshstraat opgejaag, waar die jaagtog regoor die munisipale gebou ten einde geloop het.
Volgens kapt Fourie het lede van die Da Gamaskop-polisie, lt kol Chris Meiring, hoof van sigbare polisiering en ao Pierre Botha, bevelvoerder van die landelike sektor 'n deurslaggewende rol gespeel in die aankeer van die verdagte.
Verskeie klagte
Na sy in hegtenisname, is die verdagte in die Da Gamaskop-polisiestasie se selle aangehou.
Die dossier asook die verdagte is egter na George oorgeplaas.
Teen druktyd is by monde van die George Herald verneem dat die drie mans gister, 1 Februarie in die hof op George verskyn het.
Die klagtes teen die mans sluit in aanranding met die opset om ernstig te beseer, poging tot moord, asook motordiefstal.
Die 30-jarige man wat in Mosselbaai aangekeer is, word ook aangekla van roekelose en nalatige bestuur.
Lees 'n vorige artikel: Man na wilde jaagtog aangekeer
ARTIKEL EN VIDEO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'