MOSSELBAAI NUUS - Die onbetwiste hoogtepunt die afgelope jaar is die toekennins as Kwêla Dorp van die Jaar 2017 wat Mosselbaai te beurt geval het.
Boonop is dit die tweede keer dat Mosselbaai as Dorp van die Jaar aangewys is nadat dit in 2007 ook Rapport se Dorp van die Jaar was.
Daarbenewens is die sesde agtereenvolgende skoon oudit wat die dorp verdien het, 'n besliste pluimpie in die hoed van die plaaslike owerheid.
Boonop het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal vanjaar leer gholf speel sodat hy die eerste amptelike burgemeestersgholfdag kon open.
Die opbrengs van hierdie dag word vir liefdadigheid aangewend.
Spaar water
Hoewel Mosselbaai nie tot dieselfde mate as die res van die Wes-Kaap gebuk gaan onder waterskaarste nie, word steeds 'n beroep op inwoners en besoekers gedoen om uiters spaarsamig met skoon drinkwater te werk.
Feeste
Die jaar het afgeskop met die gewilde Diasfees wat volgende jaar in 'n nuwe, meer omvattende gedaante as die Dias & Port Fees selfs nog meer sal bied.
Deur die loop van die jaar het verskeie dorpsfeeste, ook die groot Sportfees in September ruim bygedra tot ekonomiese ontwikkeling en stukrag vir die plaaslike entrepreneurs.
Talle dorpsfeeste en saamtrekke, onder meer die gewilde Buffalo Rally en Whale Rally, die Walking Festival en ander groot sportbyeenkomste het gereeld talle besoekers na die area gelok.
Tegelyk het besoekende passasierskepe met gereelde reëlmaat in die baai vasgemeer en het besoekers die omgewing verken.
Onder meer het Mosselbaai se Erfenisvereniging weer die indrukwekkende tonnelgrotte aan inwoners en besoekers bekendgestel, en 'n nuwe wandelroete by die gewilde St Blaize-grot is ook vanjaar geloods.
Mosselbaai se Voorbaai-area was vanjaar weer telkens die fokus waar stoomlokomotiewe uit vergetelheid gerestoureer is.
Die goeie nuus is dat hierdie stoomtreine ook deel sal vorm van die nuwe, groter Dias & Port Fees in 2018.
Boonop het die munisipaliteit opnuut stukrag gegee aan die ontwikkeling van 'n ligte spoorvervoertreindiens vir Mosselbaai asook 'n tremdiens.
Brande
Die dorp het met die aanvang van die nuwejaar gesteier onder verwoestende brande wat etlike duisend hektaar landbougrond verwoes het.
Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste, bygestaan deur die onderskeie landbouers en verwante noodreddingsinstansies, het hulle uitmuntend van hul taak gekwyt om te verseker dat geen lewens ingeboet is in enige van die brande nie.
Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste-personeel het onvermoeid gewerk tydens die vernietigende brande wat Knysna en omstreke getref het, en inwoners het hul harte, hande en beursies wyd oopgemaak om ruim by te dra tot rampverligting.
Verskeie gekoördineerde hulpverlenigingsaksies is geloods met inwoners wat op eie koste hulp na Knysna vervoer het.
Die eerste skooldag vir talle jong Mosselbaaiertjies het met gemengde gevoelens afgeskop, en die einde van die 2017-matriekklas het met ewe gemengde gevoelens - en vir sommige té gou, aangebreek.
Intussen het die dorp 'n nuwe junior stadssraad verwelkom en word uitgesien na die inisiatiewe wat hierdie jong leiers mee vorendag gaan kom.
Ekonomie
Die plaaslike ekonomie het by tye harde bene gekou met onder meer die visbedryf wat in die kollig was toe die Viking Inshore Fishing-maatskappy alles in die stryd gewerp het om die werksekerheid van hul werknemers te verseker.
Die hofverrigtinge het vir geruime tyd alle stokvis en tongvisvangste in Suid-Afrika opgeskort.
Uiteindelik het die hof teen die aansoek wat Viking gebring het, beslis, maar die maatskappy het baie sterk uit die stryd getree.
Die wildsbedryf, daarenteen, vertoon sterk en die eerste wildsveiling deur Southern Cape Game Breeders wat in Maart gehou is, was 'n groot sukses.
Boonop het die munisipaliteit planne goedgekeur om 'n zipline by die Punt toe te laat om adrenalienslawe selfs nóg meer te bied.
Onder leiding van die Mosselbaai Besigheidskamer is besighede weer eens betrek by 'n streeksbyeenkoms wat volgens terugvoer 'n jaarlikse instelling gaan word sodat streekontwikkeling deurentyd prioriteit kan geniet.
Ouers het vanjaar sterk standpunt ingeneem teen voornemens om hul kinders se skool, die Mosselbaai EK Primêr, ook bekend as All Saints, te sluit.
Hul sterk standpunt het uiteindelik die owerhede van plan laat verander.
Ouers van skoolgaande kinders in Powertown, wat weens hervestiging vervoerprobleme ondervind het, het met die tussenkoms van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, tydelike verligting gekry toe amptelike vervoer op departementele koste vir die kinders verskaf is.
Na wat verneem is, word hierdie diens egter in 2018 opgeskort. Intussen gaan die inisiatief voort om die inwoners van Powertown, wat op 'n vleiland gebou is, na Sonskynvallei te hervestig.
Jongmense
Die burgemeester het 'n unieke jeugprojek geloods om 11 jongmense die geleentheid te bied om as interns by die munisipaliteit nie net indiensopleiding nie, maar waardevolle ervaring op te doen om hulle toe te rus om 'n sukses van hul drome te maak.
Hierdie groepie het selfs bystand ontvang om hul leerling-bestuurderslisensies te bekom.
Die eerste fase van die opgradering van Louis Fourieweg, die lewensaar wat Mosselbaai verbind, het vroeg vanjaar ten einde geloop.
Voorstelle vir die verdere opgradering van die pad het naasliggende besighede egter warm om die kraag en heelwat gesprekke met die provinsiale owerheid sal volg voordat die volgende fase aangepak sal word.
Knelpunte op Louis Fourieweg het die afgelope jaar steeds op gereelde grondslag slagoffers van misdaad geëis, maar owerhede het talle planne in plek om die probleme hok te slaan, waaronder verhoogde, sigbare polisiëring, onder meer met berede patrollies en polisielede wat die areas op viertrekmotorfietse patrolleer.
Mosselbaai het ook 'n eerste, amptelike rehabilitasie-hospitaal vir wilde diere gekry toe dr Frans de Graaff van Hartenbos se fasiliteit amptelike akkreditering ontvang het.
Uitdagings
Van die grootste uitdagings wat inwoners in 2018 in die gesig staar is effektiewe afvalbestuur.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het 'n beroep op inwoners gedoen om die beginsels van reduce, reuse and recycle na te streef en om hul ingesteldheid oor vullisverwydering te verander.
Dit volg nadat planne vir die nuwe streekstortingsterrein buite Mosselbaai gefinaliseer is, met groot finansiële implikasies vir belastingbetalers.
"Ek sal graag die vestiging van 'n werkbare balans tussen bewaring (omgewing en kultuur) en ekonomiese ontwikkeling wil sien, soos ook meer ekonomiese ontwikkeling waar beweeg word vanaf teoretiese raamwerke na implementeerbare planne en projekte.
"Antwoorde moet gekry word om die stygende tendens van geweldsmisdade in die groter Mosselbaai aan te spreek, en ek meen daar is ruimte vir die erkende vakbonde wat baie beter kan presteer," aldus adv Giliomee.
Advokaat Giliomee het juis komitees tot stand gebring sodat die dorp kan baat by die institusionele kennis van afgetrede kundiges wat op vele terreine die munisipale amptenare met raad en daad bystaan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'