Die eerste insident het omstreeks 14:00 op Saterdag, 16 Februarie, plaasgevind toe lede van Hoërskool Calitzdorp se toutrekspan na afloop van die oefenkamp, wat in Hartenbos aangebied is, voor hulle terugkeer huis toe in die branders gaan afkoel het.
Maxwill Adonis en sy vriend, Heinrich Benjamin, is volgens die SAPD se amptelike verslag, deur 'n seestroom meegesleur. Benjamin het daarin geslaag om uit te swem en het die strand veilig bereik, waarna hy deur nooddienste vir waarneming na die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal geneem is. Die NSRI reddingsvaartuie, asook die SAPD se seegrenseenheid is ontplooi om verder na Adonis te soek. 'n Helikopter-soektog het gevolg, maar Adonis is steeds nie gewaar nie.
Die NSRI en SAPD het die soektog Sater-dagaand, Sondagoggend en weer op Maandag voortgesit, maar sonder sukses.
Die leerders was onder toesig van mnr Chris Swart, hoof van die skool en afrigter van die toutrekspan. Volgens Swart, smeek die leerders hom jaarliks om toestemming om hulle te laat swem na afloop van die kamp en elke jaar weier hy.
"Hulle het my gesmeek, 'Ons wil net voete natmaak, meneer' en ek sê altyd 'nee', maar hierdie keer het ek ingestem," het 'n getraumatiseerde Swart Saterdagmiddag op die toneel aan die Advertiser gesê.
Die spanlede en hulle afrigter het reeds Saterdagaand met hulle aankoms in Calitzdorp berading ontvang. Swart en die spanlede is Maandag saam met beraders na die toneel waar die insident paasgevind het geneem vir verdere ontlading.
"Maxwill was 'n goeie kind en die ster van my toutrekspan," het Swart aan die Advertiser gesê. Adonis het in die Kruisriver-omgewing grootgeword en was in die skoolkoshuis woonagtig, het die adjunk-hoof van Hoërskool Calitzdorp, Debbie Calitz, gesê.
Adonis word steeds vermis en die soektog is intussen afgelas. 'n Gedenkdiens vir Adonis is gister, 21 Februarie by die skool gehou.
Elfjarige verdrink in plaasdam
'n Seun van Groot-Brakrivier het Saterdag, 16 Februarie in die Hoogekraal-dam verdrink.
Clive Lourens (11) het saam met maats by sy ouerhuis gespeel, waarna hy later vermis is en nie huis toe gekom het nie. Sy vader, Hendrik Michaels, en vriende het die volgende dag 'n soektog op tou gesit, waartydens sy pa op sy liggaam in 'n plaasdam op die plaas Hoogekraal afgekom het.
Clive is deur nooddienste op die toneel dood gesertifiseer.

Die NSRI-vaartuie en SAPD se seegrenseenheid was betrokke in Saterdag, 16 Februarie se soektog na die 16-jarige Maxwill Adonis, wat in die see tussen Bayview en Hartenbos vermis geraak het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS