MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier het ingespring en gehelp om na ‘n kleuter se ouers te soek nadat die kind gister verlate in ‘n straat in die Woongebied Wolwedans gevind is.
Polisiewoordvoerder kst Laurianne Botha sê die polisie is van die situasie ingelig waarna hulle na die plaaslike Kindersorg is en hulle oor die kind ontferm het.
“Die seun het ‘n besering aan sy een voet gehad en het vermoedelik in warm kole getrap.”
Sy sê hulle het die res van die dag navrae in die gemeenskap gerig waarna dit bekend geraak het dat die kind se ouers hom in die sorg van sy ouer boetie, wie se ouderdom onbekend is, gelaat het.
“Volgens die ouers moes ‘n buurvrou na die kleuter kyk, maar sy beweer sy kon nie toegang tot die huis kry nie.”
Die kind is later die dag in die oppasser se sorg gelaat nadat die polisie haar omstandighede nagegaan het.
Die situasie sal opgevolg word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'