Volgens Henco se pa, mnr Henk van Wyk, eienaar van Skydive Mossel Bay, wie in 1999 'n soortgelyke noue ontkoming beleef het, het Henco 'n 10 000vt sprong uitgevoer en sy valskerm op 3 500vt probeer oopmaak.
"Die aktiveringsmeganisme van die hoofvalskerm het nie gewerk nie."
Henco het sy reserwevalskerm oopgemaak en dié het glo in die hoofvalskerm verstrengel geraak. Hy het in die veld, 'n paar honderd meter van die Mosselbaai Vliegveld se aanloopbaan, te lande gekom.
Volgens Van Wyk, wat nie by was tydens die voorval nie, het Henco frakture aan sy regterbeen en laerugwerwels opgedoen.
Health Care Emergency Services was eerste op die toneel en het met die hulp van Metro Ambulansdienste Henco se valskerm afgehaal en hom gestabiliseer.
"Hy het geweldig pyn gehad," sê Willie Ackerman van Health Care Emergency Services.
Hy is na die Life Bayview Hospitaal vervoer, waar hy in die intensiewe-sorgafdeling behandel is. Hy is intussen per lugambulans na 'n hospitaal in Kaapstad vervoer.
Volgens van Wyk is Henco positief oor sy herstel.
Van Wyk senior het in 1999 gedurende 'n harde landing met sy valskerm, sy been, heup en pelvis gebreek en sê Willie was toevallig ook die paramedikus wat hom destyds op die toneel behandel het. Hy is ook in die Bayview Hospitaal behandel.
Mnr Mark Bellingan van die Parachute Association of South Africa het bevestig dat die voorval ondersoek gaan word.

Pa en seun, Henk en Henco van Wyk, het 'n passie vir valskermspring.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS