Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Nie net het opvoedkundige sielkundige, Quinton Adams se werk in arm gemeenskappe tot die ontstaan van The Shackbuilder gelei nie, maar na aanleiding hiervan het die Backyard Varsity, die vaardigheidsontwikkelingsafdeling van die organisasie vandeesweek hulle eerste uitreik in Groot-Brakrivier gedoen.
Adams het sowat 17 jaar gelede na 'n groot storm in die Kaap wonings in informele nedersettings begin herbou.
Dit het 'n diep indruk op hom gemaak in terme van die onmenslike toestande waarin derduisende Suid-Afrikaners bly.
"In Suid-Afrika ken ons die statistiek van armoede, maar nie die reuk van armoede nie. Ons ken daardie reuk. Dis waarmee ons te doene kry."
Toe Adams sowat 17 jaar gelede begin het om veiliger, tydelike strukture vir mense in informele nedesettings te bou, het die gemeenskap hom die naam Shackbuilder gegee. Verlede jaar, het Adams vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê, het sy organisasie 126 wonings herbou wat in brande vernietig is.
Kyk 'n video hieronder:
Adams sê dat sy organisasie die bewustheid binne die regering, onder besighede en in die burgelike samelewing wil skep dat 'n verskil gemaak kan word. "'n Mens het nie miljoene nodig nie. Jy kan dit doen soos ons dit doen – een shack op 'n slag."
Die sogenaamde Backyard University, wat vroeër vanjaar as 'n byproduk van The Shackbuilder ontstaan het, het vandeesweek 'n vrou van Groot-Brakrivier se vervalle woning met 'n nuwe, stabiele struktuur vervang.
Adams verduidelik dat die Backyard University ten doel het om werklose jongmense vaardighede te leer sodat hulle meer indiensneembaar kan wees. Hulle leer dus nie net basiese bouvaardighede nie, maar ook van boumateriaal en -toerusting.
"Mense volg was ons doen. So het 'n vrou van Groot-Brakrivier ons gekontak om haar ma te help en ons het materiaal begin soek." Na sowat drie weke se soek vir skenkings, was die span gereed.
"Hierdie was die Backyard Varsity se eerste field trip. Van die spanlede was nog nooit eens buite die Kaap gewees nie," het Adams vertel.
Een van die spanlede, Calvin Coetzee werk al 'n jaar lank vir The Shackbuilder. "Ek kan nie wag om te sien watter verskil hierdie in die tannie se lewe gaan maak nie," het hy Dinsdag op die woelige bouperseel aan die Advertiser gesê.
Randall Steyn het verlede maand by die Backyard Varsity aangesluit. "Dis 'n baie uplifting ervaring en het dinge in my wakkergemaak."
Jessica Lottering, ook van die organisasie sê dat die herstel van menswaardigheid wat beter woongeriewe meebring, haar altyd aangryp en boonop is die vaardigheids-ontwikkeling wat in die proses by jonges plaasvind net "wonderbaarlik".
Die span het Maandag, 15 Maart met die bouprojek begin. Teen druktyd Woensdag, het Adams gesê dat die werk grotendeels klaar is.
Lede van die Backyard Varsity hard aan die werk in Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'